Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
‘Koue Oorlog’ voor stryd in Kimberley
Griekwas se haker Wilmar Arnoldi moet Vrydag eksamen skryf in Potchefstroom, maar word terselfdertyd deur sy span in Griekwas benodig. Foto: Gallo Images

’n Twis wat kan uitkring het aan die vooraand van die promosie-relegasiewedstryd tussen Griekwas en die Griffons ontstaan.

Die Griffons het Woensdag ’n stokkie gesteek voor die Poubloues se keuse van Sidney Tobias as plaasvervanger-haker vir Vrydag se wedstryd in Kimberley.

Jannie Louw, president van die Griekwaland-Wes Rugbyunie, sê die Perses het kapsie gemaak omdat Tobias, wat vir Rustenburg Impala in die Gold Cup-klubkompetisie gespeel het, nie vanjaar vir Griekwas uitgedraf het nie.

“Dit is die verskil tussen ’n professionele en semi-professionele unie. Hulle (die Griffons) kan nie verstaan dat ’n mens iemand inbring as daar nood is nie,” sê Louw.

Die keuse van Tobias is genoodsaak omdat AJ le Roux met ’n enkelbesering sukkel en Wilmar Arnoldi Vrydag eksamen skryf.

Marius Fourie is as haker in die beginspan gekies, met Arnoldi voorlopig sy adjudant. Dit is egter nie ’n uitgemaakte saak dat Arnoldi, wat tussendeur sy rugbyverpligtinge ook klas loop by die Noordwes-Universiteit in Potchefstroom, in Kimberley sal opdaag nie.

“Ek gaan probeer reël dat Wilmar sy vraestel op ’n ander tyd skryf,” sê Peter Engledow, die Poubloues se afrigter.

Sidney Tobias beur vorentoe met die bal in ’n Gold Cup-wedstryd vir Rustenburg Impala vroeër vandeesmaand. Griekwas se plan om hom as ’n plaasvervanger-haker in te span vir die promosie-relegasie-wedstryd teen die Griffons het die wind van voor gekry. Foto: Gallo Images

Die Suid-Afrikaanse Rugbyunie (Saru) se reëls bepaal dat ’n speler nie in die uitspeel- of promosie-relegasiewedstryde vir meer as een provinsie, selfs al is dit verskillende kompetisies, mag deelneem nie.

Tobias was op Rustenburg Impala se plaasvervangersbank in hul halfeindstryd teen Valsbaai die afgelope naweek. Hy het egter nie speelkans gekry nie.

Eugene van Wyk, uitvoerende hoof van die Griffons, sê daar is reëls ten opsigte van die gebruik van spelers wat nagekom moet word.

“Dit is nie in ons hande om toestemming of nie te gee nie. Saru bepaal die reëls,” sê Van Wyk.

Die Griffons se afrigter, Oersond Gorgonzola, het Joubert Engelbrecht intussen as die kaptein, Duan Pretorius, se sentermaat vir Vrydag se wedstryd gekies.

Dit is een van vyf veranderinge – wat een posisionele skuif insluit – aan die span wat die Luiperds in die Eerste Liga-eindstryd geklop het.

Engelbrecht, ’n boorling van Upington, draf op buitesenter uit in die plek van Pretorius, wat op sy beurt na binnesenter skuif in die plek van Arthur Williams.

Terugtog na die Noord-Kaap. Die Griffons se senter Joubert Engelbrecht speel Vrydag in Kimberley teen Griekwas, ’n span wat hy op junior vlak verteenwoordig het. Foto: Nasief Manie

Gorgonzola sê Williams kon nog nie dié week oefen nie.

Rodney Damons vervang vir Vuyo Mboto op regtervleuel, terwyl Shirwin Cupido die nuwe skrumskakel in Louis Venter se plek is.

Mbotho het sy enkel teen die Luiperds beseer, terwyl Venter las van ’n knie- en borsbesering het.

Die enigste verandering voorlangs is Vincent Maruping, wat Jean Pretorius aan die kant van die skrum vervang.

* Gerugte doen die rondte dat verskeie sogenaamde “groot unies” na Gorgonzola se dienste vry. Hy het die Perses verlede week na hul tweede agtereenvolgende Eerste Liga-kroon gebrei.

Griffons: Selvyn Davids, Rodney Damons, Joubert Engelbrecht, Duan Pretorius (k), Tertius Maarman, Jaun Kotze, Shirwin Cupido, Cody Basson, Vincent Maruping, Henco Greyling, Neil Claassen, Gavin Annandale, Ruan Kramer, Kwezi Mkhafu, Barend Potgieter. PLAASVERVANGERS: Andrew du Plessis, Danie van der Merwe, Johan van der Hoogt, Thato Mavundla/Samora Fihlani, Malcolm-Kerr Till, Wynand Pienaar, Arthur Williams/Heinrich Bitzi.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.