Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
Albert Heenop gesels met Niel Burger
Krag-vleuel wat nooit Springbok geword het

Sy krag-drieë wat hy met onverskrokkenheid vir die Westelike Provinsie gaan druk het, het hom die liefling van Nuweland gemaak. Hy was ’n teenstander se nagmerrie met sy afstamp, sterk bolyf en opgepompte beenspiere.

Niel Burger was ’n soort vleuel-frats met sy spoed en krag.

Niel Burger in die WP-trui.

Maar ondanks sy vaardighede en sukses om af te rond, het die Springbok-trui hom ontwyk.

Burger was meer as net ’n rugbyspeler. En ’n goeie een bygesê. Hy was ook ’n puik student wat vandag met ’n meestersgraad in sielkunde kan spog.

Hy praktiseer egter nie as sielkundige nie, maar is die afgelope 18 jaar al in kleinhandel betrokke – in Worcester, waar hy en sy vrou, Susan, woon.

“Ek het aanvanklik vir 13 jaar bestuursvakke aangebied by die Kaapse Skiereiland Universiteit van Tegnologie,” verduidelik hy, “maar ek en Susan het ’n behoefte gehad om ons kinders op die platteland groot te maak.

“Dus het ons in 2001 besluit om ’n besigheid te begin en by die Spar-groep aan te sluit. ’n Paar jaar later het ons oorgeskakel na Shoprite-Checkers en

sedertdien bedryf ons OK Foods op die dorp.

“Die lekkerte van Worcester is dat dit uit die gejaag van die stad is, hoewel dit naby genoeg aan die Kaap is.”

Niel en Susan is al 28 jaar getroud en het twee kinders, Marelee (24) en Niel-Robèrt (22).

“Marelee het ’n meestersgraad in veekunde en werk in Klapmuts as ’n analitiese ontleder van grond en gifstowwe. Niel-Robèrt het inligtingstegnologie geswot en werk by Shoprite-Checkers se IT-afdeling.”

Die Burgers is natuurmense, en hoewel die onderneming heelwat van hul tyd in beslag neem, is hulle mal oor uitkamp. Hulle breek gereeld weg berge

toe – “veral die Sederberge, wat net ’n klipgooi ver is”.

“En, op my gevorderde ouderdom het ek ook begin motorfiets ry,” voeg hy by.

“Ek het op 48 my eerste avontuurfiets, waarmee ’n mens sowel teer- as grondpaaie kan aandurf, aangeskaf en ek geniet dit terdeë.”

Avontuurlus was ’n kenmerk van hoe Niel Burger rugby benader het, en as hy nie links of regs kon verbyskiet vir ’n drie nie, het hy eenvoudig koers gekies bo-oor sy teenstanders.

Tog het Burger selde die binnekant van ’n gimnasium gesien.

Niel Burger saam met sy vrou, Susan, en hul twee kinders, Marlee en Niel-Robèrt.Foto: verskaf

“Hoewel ek nie lank was nie, was ek ’n groterige seun – ek het 102 kg geweeg toe ek opgehou speel het – en het ek van nature ’n sterk beenstruktuur gehad.”

Boonop moes hierdie krag-vleuel sy pad na roem oopbeur vanuit die anonimiteit van betreklik klein skole.

“Ek het ’n paar kilometer van Paarl Gimnasium se hek grootgeword, maar was nooit in een van die sogenaamde groot rugbyskole nie,” vertel Burger.

“My laerskooljare het ek op ’n klein plaasskooltjie by Simondium, tussen Franschhoek en die Paarl, deurgebring, en ek is daarna Hoërskool Tulbagh toe. Hoewel ek op laerskool vir Boland gekies is, het ek op hoërskool nie ’n Cravenweekspan gehaal nie.

“Ek is in 1981 Stellenbosch toe, maar met ’n atletiekbeurs.”

Burger het uitgeblink in die 200 m-naellope en het derde op die SA seniors in die 300 m-hekkies gekom.

“Ons 4x100 m-aflosspan het ook derde gekom, en ek was in die span saam met Kobus en Schalk Burger (die blondekop-broers wat ook vir WP rugby gespeel het).

“Ek het B.Rek geswot, maar my eerstejaarstudies het nie goed afgeloop nie. Toe ek boonop my been breek, het ek my o.19-afrigter, Dawie Swart, meegedeel dat ek die volgende jaar weermag toe sou gaan.

“Dawie het my egter oorreed om terug te keer en eerder sielkunde te studeer. My tweede jaar het heelwat beter verloop, en Dok Craven het my ook van die o.19’s af opgetrek na Maties se eerste span vir 1982 se intervarsity teen Ikeys.”

In daardie stadium het die WP-vleuel Frikkie Ebersohn sy skouer beseer, en nadat sowel Paul Lombard (skrumskakel) as Calla Scholtz (heelagter) onsuksesvol op vleuel ingespan is, is Burger, ná slegs drie wedstryde vir Maties, in die WP-span ingesluit.

Sy tweede wedstryd was die halfeindstryd van die Curriebeker-reeks teen Natal, wat in daardie stadium in die B-afdeling was, en Burger het met ’n indrukwekkende langafstand-drie in die WP se oorwinning van 47-18 uitgeblink.

Ná net twee wedstryde in die streeptrui, het die jong Burger vir WP opgedraf in ’n Curriebeker-eindstryd – op Nuweland teen die verdedigende kampioen, Noord-Transvaal.

“Ek was die enigste ou in daai WP-agterlyn wat nooit Springbok sou speel nie,” onthou hy. “Dit was ’n enorme geleentheid.

“Die ondersteuning van die manne het my egter ongelooflik kalm gehou, gemaklik gehou; ek het beslis nie my naels afgekou nie.”

So kalm, so gemaklik was Burger dat hy ná skaars ’n paar minute drie Ligblou-verdedigers met gemak geklop het om in die hoekie oor te duik vir die eerste drie van die eindstryd.

Die Kapenaars het met 24-7 gewen en die WP-rugby se glorietydperk van vyf jaar in die proses ingelei.

“Dit was ’n unieke klomp ouens om mee saam te speel,” sê hy. “Daar was Nick Mallett, wat ’n ongelooflike manier gehad het om homself te motiveer; Rob Louw, wat onder selfs die mees spanningsvolle omstandighede die gemaklikste mens was; en Hempies du Toit, wat soos ’n pa vir baie van ons was.”

Burger se oudste suster, Renetha, is met nog ’n WP-legende, die Springbokslot Hennie Bekker, getroud.

“Ek was maar in St. 3 (Gr. 5) toe Renetha en Hennie ontmoet het,” onthou hy, “maar tog het ek en hy uiteindelik vier jaar saam vir WP gespeel.”

Ten spyte van beserings wat sy loopbaan gekortwiek het, het Burger in nog twee Curriebeker-eindstryde gespeel, in 1984 en 1985, en het hy in elk ’n drie gedruk.

Hy het sy loopbaan afgesluit met 51 Curriebeker-drieë, sommige skouspelagtig.­

Dat hy nooit Springbok geword het nie, sê Burger, het seergemaak, “maar ek het gelukkig lank­al aanbeweeg”.

Meer oor:  Westelike Provinsie  |  Nuweland  |  Vleuel  |  Springbok
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.