Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
Kriel sluit 3-jaar-kontrak met Leeus

Jou huis is waar jou hart is.

Daarvan kan Jaco Kriel getuig nadat hy ’n Blou Maandag vir Leeus-rugby opgekikker het met sy aankondiging dat hy weer vir die volgende drie jaar saam met dié span sal brul.

Jaco Kriel vir die Engelse klubspan Gloucester in aksie. Hy is nou weer terug by die Leeus. Foto: Getty Images

In ’n video op die Leeus se Twitter-rekening het ’n opgewekte Kriel gesê hy is in sy motor onderweg na die Leeus se kantore om die laaste administrasie rakende sy terugkeer af te handel en ook om weer by sy eerste oefening in te val.

“Dit is ’n pragtige somersdag vol sonskyn hier in die Goudstad en ek is baie opgewonde om weer terug te wees en by my oudspanmaats in te val. Ek is baie opgewonde om aan te kondig dat ek weer ’n kontrak vir drie jaar met die Leeus gesluit het,” het hy gesê.

Die 30-jarige Kriel, ’n voormalige kaptein van die Leeus wat in 71 Superwedstryde vir die Rooibontes gespeel het, het sy rugby in Doornfontein tussen 2011 en 2018 gespeel.

Hy is toe deur sy eertydse Leeus-afrigter Johan Ackermann, na die Engelse klub Gloucester gelok, maar dinge wou net nie daar vir Kriel uitwerk nie.

Beserings en ’n verlange na Suid-Afrika en die leefwyse hier, het aan hom geknaag en hy het besluit om sy terugkeer te maak.

Vir die Leeus is dit baie goeie nuus, veral in die lig van die gebrek in diepte wat hul losvoorspelers betref.

Dit is ’n pragtige somersdag vol sonskyn hier in die Goudstad en ek is baie opgewonde om weer terug te wees en by my oudspanmaats in te val.
Jaco Kriel

Warren Whiteley en Kwagga Smith is nie vanjaar beskikbaar nie, terwyl Cyle Brink ook ’n langtermyn-besering in die voorseisoen opgedoen het.

Noudat Kriel weer saam met die voormalige Springbok Willem Alberts gekies kan word, is daar skielik aansienlik meer slaankrag van nommers ses tot agt.

Kriel sal ook as kaptein oorweeg kan word en dit is dalk een van die redes waarom daar gesloer is om ’n heeltydse kaptein vir die seisoen aan te wys en eerder dit week vir week te neem.

Daar is verdere goeie nuus vir die Leeus, wat Maandag teruggekeer het nadat hul seisoen sleg afgeskop het met ’n liederlike nederlaag van 8-38 teen die Jaguares.

Die Springbok-heelagter Andries Coetzee oefen ook weer saam met sy span en sal oorweeg kan word vir hierdie Saterdag se eerste tuisstryd van die Leeus teen die Reds van Brisbane.

Nog ’n oud-Bok wat ná sy besering weer oorweeg kan word is die skrumskakel Ross Cronjé.

Wanneer spelers soos Kriel, Alberts, Coetzee en Cronjé almal gekies kan word saam met ’n strydros soos die vaskopstut Jannie du Plessis, sal die welpies skielik heelwat maanhare bykry.

Meer oor:  Warren Whiteley  |  Leeus  |  Superrugby  |  Jaco Kriel  |  Johannesburg
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.