Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
Nuweland-transaksie in weegskaal

Die Westelike Provinsie-rugbyunie (WPRU) bevind hom opnuut in ’n krisis deurdat sy transaksie vir die verkoop van die Nuweland-stadion in die weegskaal is.

Die WP-rugbyunie se verkoop van die Nuweland-stadion aan die bankreus Investec is dalk in die weegskaal. Foto: Gallo Images

Investec, die bankreus wat die WPRU R110 miljoen vir die stadion sou betaal, het Woensdagaand deur ’n woordvoerder aan Netwerk24 bevestig dat “die onderhandelinge ’n dooiepunt bereik het”.

Die hoofpunte van die ooreenkoms was reeds vir dié transaksie geteken, maar die WPRU se uitvoerende raad het brieke aangedraai en wou dit glo heronderhandel.

Kevin Kiewitz, ’n lid van die uitvoerende raad, het daarna uit sy amp bedank – glo omdat hy briesend oor die ommeswaai op raadsvlak was. Hy het Woensdag aan Netwerk24 gesê dat hy later vandeesweek ’n verklaring sal uitreik.

“Ek hardloop nie weg nie. Ek tree op in die belang van WP-rugby,” het Kiewitz gesê.

Zelt Marais, president van die WP-rugbyunie .Foto: Gallo Images
WP
Zelt Marais, die WP-rugbyunie se president, sê in sy brief aan klubs dat Kevin Kiewitz as ’n lid van die unie se uitvoerende raad en as aandeelhouer-direkteur van die sakevleuel bedank het.

Daar was verdere drama met betrekking tot Kiewitz nadat Zelt Marais, die WPRU se president, Dinsdag die unie se klubs skriftelik ingelig het dat hy (Kiewitz) as lid van die uitvoerende raad, asook ’n direkteur van die WPRU se sakevleuel bedank het.

Volgens André van der Veen, ’n onafhanklike direkteur op die sakevleuel en lid van die tussentydse bestuurskomitee, bly Kiewitz egter aan as ’n direkteur en lid van die bestuurskomitee. Dít is Maandag reeds met Kiewitz uitgeklaar.

Marais, Van der Veen, Kiewitz en Raymond van Niekerk dien saam in ’n tussentydse bestuurskomitee, wat die WPRU bestuur tot tyd en wyl ’n nuwe uitvoerende hoof aangestel word.

“Ek het met die voorsitter van die raad bevestig dat Kevin nie (as direksielid van die sakevleuel) bedank het nie. Sy bedanking is teruggetrek – indien daar ooit een was,” het Van der Veen gesê.

Ongeag of die Nuweland-transaksie in die slag bly, sal die Stormers en Westelike Provinsie steeds aanstaande jaar hul rugby in die Kaapstad-stadion speel. Foto: Gallo Images

Indien die WPRU se onderhandelinge met Investec skipbreuk ly, sal dit nie die Stormers en WP se skuif na Kaapstad-stadion aanstaande jaar kelder nie.

“Ons is oortuig dat die ooreenkoms tussen ons en die Kaapstad-metro bindend is. Dit gaan nie verander nie,” het Van der Veen gesê.

Volgens hom is die hoofpunte van ’n ooreenkoms onderteken en is dit slegs “detail” wat met die metro uitgeklaar moet word.

Die WPRU sal nietemin deur ’n finansiële fiasko in die gesig gestaar word indien die transaksie met Investec nie beklink word nie.

Behalwe vir die R110 miljoen wat dit die WPRU in die sak sou bring, sou hy ook ’n inkomstestroom kry uit ’n eiendomsontwikkeling wat Investec daar doen.

Die WP sou daarmee die sowat R58 miljoen wat hy die beleggingsmaatskappy Remgro skuld, kon delg.

Ofskoon daar nie amptelike bevestiging van die WP was dat hy besluit het om kop uit te trek uit die transaksie met Investec nie, was Kiewitz glo nou betrokke by die onderhandelinge om dit destyds deur te hak. ’n Besluit deur die WPRU om nou koue voete te kry, sou sy werk ondermyn.

André van der Veen. Foto: Verskaf

Indien Investec die ondertekening van die hoofpunte van die ooreenkoms vir die Nuweland-transaksie as bindend beskou, kan die unie se beweerde ommekeer ’n groot drama ontketen.

Volgens Van der Veen sal die Nuweland-transaksie nie die sakevleuel se bedrywighede, wat die kontraktering van spelers insluit, beïnvloed nie.

“Ons het goeie spelers, goeie kontrakte, goeie borge wat almal hul kontrakte hernu het en ’n uitstekende afrigtingspan. Uit ’n rugby-perspektief is dinge net besig om beter te raak,” sê hy.

“Daar is stabiliteit, energie en ons weet waaraan ons moet werk en waar ons swakhede is. Al daardie dinge is positief.”

* Marais wou nie Woensdagaand kommentaar lewer nie.

Meer oor:  Investec  |  Westelike Provinsie Rugbyunie  |  Wpru  |  Zelt Marais  |  Rugby
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.