Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
Kritici looi ‘arrogante’ Eddie en Rose

Engeland se nederlaag Sondag in die Sesnasies-rugbyreeks teen Frankryk was vir sir Clive Woodward geen verrassing nie.

Die Hane het Eddie Jones se Engelse span met 24-17 in Parys geklop.

Owen Farrell, Engeland se kaptein, soek Sondag vergeefs deurkomkans in Parys. Foto: Getty Images

Jones het verlede week wyd en syd verkondig dat sy span die onervare Franse ’n rugbyles gaan leer.

“Frankryk kan ’n brutale aanslag van Engeland verwag – ons gaan seker maak hulle weet wat toetsrugby is,” het Jones luidens ’n berig in The Guardian gesê.

Nou, ná Sondag se geploeter, sit Jones met eier op sy gesig.

“Dit gee my groot plesier om te sê ek het hierdie (Engeland se nederlaag) sien kom,” skryf Woodward, die afrigter wat Engeland in 2003 tot Wêreldbeker-glorie gelei het, in sy rubriek in die Daily Mail.

“Frankryk is besig om te verbeter en is reeds skerper sedert Shaun Edwards (voormalige verdedigingsafrigter van onder meer die Britse en Ierse Leeus) hom by hulle aangesluit het. Hulle het op kritieke oomblikke goed verdedig.

“Engeland het met die verkeerde span opgedaag, en het duidelik nog nie herstel van sy teleurstellende vertoning in die eindstryd van die Wêreldbeker-toernooi nie (Suid-Afrika het Engeland in November in Jokohama met 32-12 geklop).

Dit gee my groot plesier om te sê ek het hierdie (Engeland se nederlaag) sien kom.
Clive Woodward

“Gegewe dít, was ek verbaas oor hoe selfversekerd sommige kenners was dat Engeland ’n oorwinning sou behaal,” skryf Woodward.

“Dit wys net weer hoe nutteloos dit is om voor die wedstryd allerhande praatjies te maak oor die brutaliteit en fisiekheid waarmee jy gaan speel en hoe jy Frankryk ’n paar lesse oor toetsrugby gaan leer.

“Al die intensiteit het van Frankryk gekom, minstens vir die eerste 55 minute, voordat hulle begin konsentrasie verloor het,” sê hy.

Woodward kritiseer ook Jones se spankeuses in sy rubriek en sê dat die Rose se kaptein en binnesenter, Owen Farrell, “sy swakste wedstryd gespeel het, wat ek nog gesien het”.

Eddie Jones, afrigter van Engeland, het Sondag in Parys meestal na ’n bekommerde man gelyk. Foto: Getty Images

Maar dit is nie net Woodward wat Jones oor die kole haal nie. Ook Matt Williams, ’n voormalige afrigter van Skotland en deesdae ’n TV-aanbieder, het Jones bygekom. Hy het ná die wedstryd in ’n ontleding op Ierse televisie sy misnoeë met Jones se “arrogansie” te kenne gegee.

“Ek plaas baie van die blaam hiervan (Engeland se nederlaag) op Eddie Jones.

“Eddie Jones was arrogant die afgelope week. Hy het gesê hulle wil die beste span van alle tye wees. Kyk na hulle vertoning hier.

“Hoekom sal jy iets so simpel wil sê? Hoekom sal jy sulke druk op jou spelers wil plaas? (Engeland) het arrogant geraak en geglo hy is onoorwinlik.

“Daarteenoor het die Franse uitgegaan en hul alles gegee. Ek is absoluut verheug,” sê Williams.

Die Engelse kom Saterdag teen Skotland, wat net-net die afgelope naweek teen Ierland verloor het, op Murrayfield te staan. Val die Rose weer in die Sesnasies-reeks vas, sal Jones hom moet staal vir ’n vlaag kritiek en vrae oor sy geskiktheid om aan die stuur van die Engelse te bly. – Sportredaksie


Meer oor:  Parys  |  Frankryk  |  Clive Woodward  |  Eddie Jones  |  Engeland  |  Sesnasies
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.