Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
Kwagga en sy neef jag dalk saam vir Blitse

Die 19-jarige Tiaan Pretorius lek sy lippe af vir die dag wat hy saam met sy neef Kwagga Smith die wêreld se rugbyvelde op horings kan neem.

Die rugbybloed pomp deur Tiaan Pretorius se are. Foto: Eunice Visagie

Pretorius het vroeg in 2020 by die Suid-Afrikaanse Sewes-akademie aangesluit. Nou droom hy daarvan om saam met sy neef vir die Blitsbokke te speel – ’n ideaal wat dalk net in die afsienbare toekoms bewaarheid kan word.

Smith was ’n lid van die Blitsbok-span wat in 2016 Olimpiese brons verower het én verlede jaar in die Springbok-span wat as wêreldkampioene gekroon is. Nou hoop hy om aanstaande jaar terug te keer na Japan om sy land vir die tweede keer op die Olimpiese Spele te verteenwoordig.

Die rugbybloed bruis deur Pretorius se are, met sy pa, Torros, wat in sy speeldae ’n staatmaker vir onder meer die Pumas was. Een van Torros se destydse spanmaats was Marius Schoeman, wat tans die hoëprestasiebestuurder van sewesrugby by die Suid-Afrikaanse Rugbyunie is.

Tiaan Pretorius bars vorentoe met die bal in ’n wedstryd vir Paul Roos-Gimnasium in 2019. Foto: Gallo Images

“Kwagga is nog altyd vir my ’n voorbeeld en ek probeer soveel as moontlik by hom leer. Hy is hardwerkend en nederig,” sê Pretorius, ’n voorspeler in sewesrugby, van sy suksesvolle neef.

“Dit is seker een van my grootste doelwitte om saam met hom te speel. Hopelik kry ek eendag die geleentheid.

“Werner Kok is ook iemand na wie ek opkyk en ek is gelukkig om saam met hom te oefen by die sewes. Hy stel ’n goeie voorbeeld om nooit tou op te gooi nie.”

Pretorius, ’n oudleerling van Paul Roos-Gimnasium, het reeds op ’n jong ouderdom ’n paar lastige hindernisse gehad om te oorkom.

In 2018, in sy gr. 11-jaar, is hy vir die Westelike Provinsie se Cravenweek-span gekies. Die volgende jaar het hy ook die SA o.18-sewesspan, wat deur Schoeman afgerig is, in die Capricorn-toernooi in Namibië verteenwoordig.

Sy pad na sukses was skynbaar met goud geplavei – maar toe doen hy laat verlede jaar harsingskudding op en loop die Cravenweek-toernooi mis. Hy is wel later opgeroep tot die SA Skole-A-span, maar erken die besering was ’n bitter teleurstelling.

Tiaan Pretorius (middel) in 2014 as 13-jarige saam met Werner Kok (links) en Kwagga Smith. Foto: Verskaf

“Dit was vir my baie moeilik om verlede jaar se Cravenweek mis te loop, veral omdat ek die vorige jaar daarin gespeel het. Ek kry nou nog nagmerries daaroor, maar soms gebeur dinge tog met ’n rede.

“Ek het myself positief gehou deur hard te werk en gemotiveerd te bly,” sê Pretorius.

Dit is geen verrassing nie dat mense wat al ’n paar sakke sout moes opeet, hom inspireer.

“Mense wat uit moeilike omstandighede gekom en hulself opgewerk het tot die hoogste punt wat hulle kan bereik – van werk tot sport tot die alledaagse lewe – inspireer my baie,” sê hy.

Pretorius se doelwit vir 2020 is om die Akademiespan later vanjaar in Dubai te verteenwoordig.

En wie weet, binne die volgende jaar of so is hy dalk Smith se spanmaat in Wêreldrugby se sewesreeks.

Meer oor:  Kwagga Smith  |  Sewes  |  Blitsbokke
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.