Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
Kwagga in Mei terug by Blitse; dan dalk Haaie

Die Springbok-flank Kwagga Smith sal hom in Mei vir drie maande by die Blitsbokke in Stellenbosch aansluit om sy droom voort te sit om ’n Olimpiese goue by sy Wêreldbeker-medalje te voeg.

Smith, wat tans in Japan sy rugby speel, sal dus vir die laaste twee toernooie van Wêreldrugby se Sewesreeks in Londen en Parys vir die Springbok-sewesspan beskikbaar wees.

Kwagga Smith . . . sy Olimpiese droom is steeds op koers. Foto: Getty Images

Hy sal dan ’n kans kry om te wys dat hy steeds oor daardie sewesvernuf beskik wat hom ’n waardevolle angel in die Blitsbokke se arsenaal kan maak vir dié Spele, wat later vanjaar in Tokio beslis word.

Die veelsydige losvoorspeler sal slegs vir die Blitse beskikbaar wees en nie vir die Leeus in Superrugby soos wat vorige jare die geval was nie, sodat hy heeltyds op die sewes kan fokus.

Rapport verneem dat hy hom moontlik ná sy Olimpiese verpligtinge in Durban kan aansluit, met die Haaie wat glo na sy dienste vry.

Hy sal hom dan by sy boesemvriend en mede-Blitsbok Werner Kok by die KwaZulu-Natalse span voeg.

Neil Powell, afrigter van die Blitsbokke, se planne om Ruhan Nel en Seabelo Senatla onder meer te betrek by die Hongkong- en Singapoer-sewes het in die slag gebly toe die twee toernooie uitgestel is weens Covid-19, die nuwe koronavirus.

Hy is nou hoopvol om hulle, nes Smith, in die laaste twee toernooie van die seisoen in te span as hy die goedkeuring van die Stormers kry.

Powell sê hulle is nie heeltemal seker wat om vandeesweek in die Los Angeles-sewestoernooi te verwag nie omdat dit die eerste keer is dat hulle daar sal speel.

Wat hy wel wil sien, is dat sy span van meet af aan hul stempel op die aanval en verdediging afdruk in die Noord-Amerikaanse toernooie.

Die Blitsbokke pak Kenia, Kanada en Ierland in groep B van die toernooi.

Dit gaan belangrik wees om aan te hou aanpas en te beheer wat ons kan beheer. As daar dinge is wat ons nie kan beheer nie, moet ons sorg dat ons fokus op die regte plek is.

Daar is gelukkig goeie nuus dat dié toernooi oor kwarteindrondes beskik, met die voorste twee spanne van elke groep wat deurdring.

“Ek wil sien dat ons van die begin af beheer neem van ons wedstryde soos wat die geval in Sydney was,” het Powell die afgelope week oor die LA-toernooi gesê.

“Ons is nie seker oor wat daai kant verwag kan word nie. Ons kon nie regtig antwoorde kry oor hoe dinge daar lyk nie.

“Veral met die oefenveld en geriewe beskikbaar. Dis nie ’n tradisionele rugbyspelende land nie en ander sportsoorte kry voorkeur. Dis een van daardie dinge waarby jy maar sal moet aanpas.

“Soms kry jy ’n gimnasium wat al die toerusting het wat jy nodig gaan kry, maar dan oefen jy op ’n veld wat vir Amerikaanse voetbal geskik is.

“Dit gaan belangrik wees om aan te hou aanpas en te beheer wat ons kan beheer. As daar dinge is wat ons nie kan beheer nie, moet ons sorg dat ons fokus op die regte plek is.”

Die Blitsbok-groep is: Angelo Davids, Ryan Oosthuizen, Impi Visser, Sako Makata, Werner Kok, JC Pretorius, Branco du Preez, Selvyn Davids, Kurt-Lee Arendse, Cecil Afrika, Muller du Plessis, Stedman Gans (kaptein). PLAASVERVANGER: Mfundo Ndhlovu.

Bepalings vir Los Angeles-sewes (alles SA-tyd, regstreeks op SS 1): Blitsbokke t. Kenia (Saterdag, 21:35); Blitsbokke t. Kanada (Sondag, 00:51); Blitsbokke t. Ierland (Sondag, 05:03).

Meer oor:  Olimpiese Spele  |  Kwagga Smith  |  Stellenbosch  |  Blitsbokke
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.