Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
Kwaggas trots ná Skotte Duhan kies

Min mense het só ver bors uitgestoot van trots soos Piet Cloete toe die vleuel Duhan van der Merwe Woensdag ingesluit is in Skotland se beginspan vir sy rugbytoets teen Georgië.

Duhan van der Merwe storm doellyn toe vir die Suidwestelike Distrikte (SWD) teen die Blou Bulle tydens die o.18-Cravenweek-toernooi in 2013 in Polokwane. Foto: Wim Pretorius

Cloete, wat tans die sporthoof by die Hoërskool Outeniqua in George is, het van 2009 tot 2013 vir Van der Merwe afgerig. Hy het aanvanklik vir die Kwaggas se o.14 B-span uitgedraf, voordat hy later ’n ster in die eerste span sou word.

“Sy insluiting (in die Skotse span vir Vrydag se toets) is fantastiese nuus. Dit maak my bitter opgewonde,” sê Cloete.

Vir Cloete is Van der Merwe (25) een van verskeie spelers uit die groep van 2013, wat die kans kry om hul merk op die internasionale verhoog te maak nadat hulle by hom, Martin Oosthuizen en Jacques Wolfaardt touwys gemaak is.

Warrick Gelant, wat verlede jaar deel was van die Springbokke se seëvierende veldtog by die Wêreldbeker-toernooi in Japan, sowel as Dewald Human, wat sedert 2017 vir die Blitsbokke speel, het ook in 2013 vir die Kwaggas uitgeblink.

Duhan van der Merwe op die aanval vir SWD teen die Blou Bulle met een van sy kraglopies tydens die o.18-Cravenweek-toernooi in 2013. Foto: Getty Images

Daardie span het destyds 780 punte in 18 wedstryde opgestapel en net 271 afgestaan vir ’n gemiddelde telling van 43-15. Van der Merwe-hulle het net twee keer vasgeval in 2013 en het onder andere met Grey-kollege (22-20), Hoër Jongenskool Paarl (45-36) en Hoërskool Dr. EG Jansen (57-34) klaargespeel.

“Dink nou net Duhan haal die Britse en Ierse Leeus-span volgende jaar en Warrick word by die Springbokke ingesluit. Dan kan hulle teen mekaar speel. Dit sal sekerlik die eerste keer wees wat twee spelers uit dieselfde skool kom, maar teen mekaar speel tydens ’n Leeus-toer,” sê ’n opgewonde Cloete.

Volgens Cloete het Van der Merwe het eers later in sy hoërskool-loopbaan in ’n kranige rugbyspeler ontluik.

“Hy het o.14 en o.15 meestal vir die B-span gespeel. Aan die einde van sy o.15-jaar het hy verskriklik hard begin oefen en baie mooi ontwikkel,” onthou Cloete.

“Hy het gereeld tyd in die gimnasium spandeer en atletiek begin doen. Dit was asof sy liggaam positief daarop gereageer het.”

Dis egter iets wat Van der Merwe as 15-jarige aan Cloete geuiter het, wat hom laat kennis neem het van dié jong man se doelgerigtheid.

“Toe hy o.15 was, het hy eendag na my toe gekom en gesê: ‘Meneer sal sien, ek gaan eendag SA Skole speel’. Sy broer (Akker, wat later ’n Springbok-haker geword het) het hom natuurlik baie gemotiveer. Hy het gesê hy wil soos Akker wees,” vertel Cloete.

“Ek het vir hom gesê dat hy daardie droom moet najaag, want hy het al die talent. Hy het werklik ongelooflik hard gewerk.”

Cloete het nooit getwyfel oor Van der Merwe se vermoëns nie, maar teen die tyd dat hy in 2012 vir die eerste keer vir die eerste rugbyspan uitgedraf het, het hy geweet dié seun se loopbaan gaan nie by skolerugby eindig nie.

Duhan van der Merwe rond sy tweede drie af vir Edinburgh teen London Wasps verlede jaar. Foto: Getty Images

“Hy het toe in 2012 vir die Suid-Afrikaanse Skolespan uitgedraf. Veral toe hy in matriek was, het ons vermoed hy is vir groter dinge beskore. Sy grootte en sy vaart op vleuel was iets om te aanskou. Hy is toe in 2013 weer in die SA Skolespan ingesluit.”

Ná skool het die bielie hom by die Bulle aangesluit, maar hy is deurlopend deur beserings geteister. Hy is toe sak en pak na Frankryk, waar hy tussen 2016 en 2017 in enkele wedstryde vir Montpellier gespeel het.

’n Geleentheid het hom daarna voorgedoen by Edinburgh en Van der Merwe het die skuif gemaak na Skotland, waar hy sedertdien die drieë ingeryg het.

“Ek het hom noukeurig dopgehou sedert sy skuif na Edinburgh. Sy rugby het weer mooi op dreef gekom by hulle.

Akker was ’n besige, woelige mannetjie met ’n kort humeur. Duhan was weer die teenoorgestelde.

“Ons het so gehoop hy kry die geleentheid om vir Skotland te speel en ek is baie trots op hom,” sê Cloete.

Akker, wat in 2009 aan Outeniqua gematrikuleer het, is self ook deur Cloete afgerig, voordat hy in 2018 sy buiging vir die Bokke gemaak het.

“Duhan en Akker verskil geheel en al in persoonlikheid,” vertel hy.

“Akker was ’n besige, woelige mannetjie met ’n kort humeur. Duhan was weer die teenoorgestelde. Hy was rustig en het nie sommer kwaad geword nie.

Maar Akker het vir Duhan ore aangesit wat die akademie betref,” voeg Cloete skertsend by.

Meer oor:  Kwaggas  |  Duhan Van Der Merwe  |  Toetsrugby
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.