Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
Kwarantyn of te nie, Pumas ‘oefen’
Die Pumas hou kajuitraad tydens hul wedstryd teen die Stormers in Oktober in Mbombela. Foto: Gallo Images

Vir die spelers van die Pumas wat die afgelope week in kwarantyn was weens die koronavirus, was daar nie sprake van stil sit nie, want Jimmy Stonehouse, dié span se breier, het steeds die sweep geklap.

Sedert twee spelers van die Laevelders se vaste vyf ’n week gelede positief vir die koronavirus getoets is, is sake in Mbombela erg deurmekaargekrap.

Die twee, en ander voorspelers met wie hulle in kontak was, is in kwarantyn geplaas. Dit het ’n stokkie voor verlede naweek se Superrugby Unlocked-kragmeting met die Leeus in Johannesburg gesteek.

Kort daarna is die Pumas se wedstryd teen die Bulle op Loftus Versfeld van Vrydag tot Saterdag geskuif, om Stonehouse-hulle tyd te gun om hul sake agtermekaar te kry.

Onthou, ons het ander voorspelers ook, en al die agterspelers oefen steeds, maar dit is beslis ontwrigtend.
Jimmy Stonehouse

“Dit maak dit moeilik, maar ons het steeds soos gewoonlik geoefen. Onthou, ons het ander voorspelers ook, en al die agterspelers oefen steeds, maar dit is beslis ontwrigtend,” sê Stonehouse.

“Die spelers wat in isolasie is, het video’s gekry en alles waardeur hulle moet gaan. Anders moet hulle alles van vooraf leer wanneer hulle hul weer by die span aansluit. Ons is reg vir die wedstryd. Ons sal wel Vrydag ’n paar lynstane en skrums oefen.”

Jimmy Stonehouse, afrigter van die Pumas. Foto: Gallo Images

Die spelers wat in kontak met die twee was wat positief getoets is, het Donderdag uit kwarantyn gekom en is weer getoets. Die uitslae sal Vrydag bekend wees. Daar was tien persone van die unie in kwarantyn.

Vir die Pumas wag daar ’n ander uitdaging wanneer hulle Saterdag op Loftus Versfeld op die veld draf. Met al die Covid-19-woelinge en ’n loslootjie tussenin, sal dit drie weke sedert die Laevelders se laaste wedstryd op 31 Oktober teen die Haaie in Mbombela wees.

Dit kan maklik vrae oor die Pumas se wedstrydfiksheid laat ontstaan – iets wat Stonehouse egter van die tafel vee.

“Die Bulle was ook af (verlede naweek), so ons is almal in dieselfde bootjie. Dalk was die ruskans goed en vind die ouens mekaar op die veld.

“Ons was goed voorbereid verlede naweek vir die wedstryd teen die Leeus. Dit is darem nie of die spelers af was nie, ons het steeds elke dag geoefen.”

• Stonehouse gaan Vrydag sy span aanwys vir die kragmeting met die Bulle.

Meer oor:  Jimmy Stonehouse  |  Mpumalanga  |  Oefen  |  Kwarantyn  |  Covid-19  |  Afrigter  |  Curriebeker  |  Rugby  |  Pumas
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.