
Sonny Bill Williams in aksie vir sy nuwe rugbyligaspan, die Toronto Wolfpack. Foto: Getty Images
Die voormalige All Black-ster Sonny Bill Williams is welbekend vir sy ongelooflike aangeë, fisieke teenwoordigheid en langlewendheid in die sport.
Williams (34) het ook tot voor 2009, toe hy hom tot die Islam bekeer het, gereeld om die verkeerde redes die hoofopskrifte gehaal gedurende ’n “wilde” tydperk vroeër in sy loopbaan.
Die onderstaande beeldmateriaal van ’n 18-jarige Williams wys op ’n jong en aggressiewe man waarmee jy nie moet skoor soek nie. Dit was terug in sy rugbyligadae.
Williams voel sy teenstander, Joe Falemaka, hou hom te lank op die grond vas. Hy stamp hom en ’n kort onderonsie volg.
Net wanneer dit lyk asof sake onder bedwang is, stap Williams terug na Falemaka en deel ’n klomp vuishoue uit. Die beamptes het genoeg gehad en stuur albei spelers van die veld af.
Williams vertrek eerste gevolg deur Falemaka – wat dan ’n groot flater begaan. Hy begin hardloop na die koelkas en trek sy trui uit terwyl hy op Williams afpyl. Williams staan egter gereed op die kantlyn en slaan Falemaka uit met ’n enkele vuishou.
Williams het sy staal voorheen in die bokskryt uitgestal en is onoorwonne in al sewe sy beroepsgevegte.
– Sportredaksie