
’n Rugbywedstryd in Frankryk die afgelope naweek tussen Tarbes en Lannemezan is in absolute chaos gedompel.
’n Boksgeveg met bietjie rugby tussenin. Dit is hoe die afgelope naweek se derbywedstryd tussen Tarbes en Lannemezan in Frankryk se Federale 1-liga beskryf word.
Die rugbygemeenskap is stomgeslaan nadat ’n skokkende bakleiery die kragmeting versuur het, met sewe spelers wat van die veld af gestuur is.
Rugby365 berig die wedstryd is kort ná die afskop vir sewe minute gestaak toe spelers en bestuur van albei klubs betrokke geraak het in die geweld.
Albei afrigters is afgestuur en vyf spelers het rooikaarte gekry voordat die kragmeting met 13 teen 12 hervat is. Tarbes het uiteindelik met 36-3 geseëvier, hoewel die tuisspan die wedstryd met 12 spelers geëindig het en Lannemezan met 11 nadat nog twee rooikaarte later in die verrigtinge uitgedeel is. Drie spelers het ook geelkaarte gekry.
Die Franse koerant La Depeche het die gedoente as “pateties, ontstellend en skandelik” beskryf.
Die Suid-Afrikaner Ulrich Pretorius (31), Tarbes se haker, het vir die Haaie en Boland Kavaliers gespeel voordat hy sy rugbyloopbaan in die 2014-’15-seisoen in Frankryk gaan voortsit het.
“Dinge het te ver gegaan en daar is nie gedink oor die gevolge wat sulke tonele vir jong kykers kan inhou nie,” sê hy.
“Dit is gevaarlik vir almal, dinge kan baie vinnig verander.”
Die klubs beplan glo ’n gesamentlike mediakonferensie om jammer te sê nadat Alain Doucet, die president van die Ligue Occitanie de Rugby-reeks, gesê het die kompetisie is nou “rugby se onderwerp van bespotting”.
“Ek het nog nooit in my lewe iets soortgelyk gesien nie,” sê hy.
“Ek is diep teleurgesteld en seergemaak oor wat gebeur het. Hierdie wedstryd het in ’n nagmerrie ontaard.”
– Sportredaksie