Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
KYK: Bestuur, spelers trek laer om Rassie

Die Springbokke en hul bestuurspan steun Rassie Erasmus se planne vir die span soos een man.

Matt Proudfoot, Damian de Allende en Francois Louw het Nieu-Seelandse joernaliste hiervan verseker toe hulle Dinsdag in Wellington met vrae gepeper is oor Suid-Afrika se onlangse onbestendige vertonings, die pad vorentoe en die invloed van Saterdag se Rugbykampioenskapstoets teen die All Blacks se uitslag op die Bokke.

Matt Proudfoot glo die Bokke is op die regte pad, al weerspieël die uitslae dit nog nie. Foto: Gallo Images

“Ek twyfel nie daaroor dat ons ondanks die onlangse uitslae in die regte rigting beweeg nie,” het Proudfoot gesê.

“Rassie se beplanning is in die kol. Hy het ons bestuurspan se steun. Ons staan soos een man agter hom. Wat my die meeste van Rassie beïndruk, is sy eerlikheid met die span en die filosofie waarin hy glo. Almal het ingekoop.

“Ons het groot vertroue in sy planne. Ons moet die span transformeer en ’n groep spelers bou wat mededingend in die Wêreldbekertoernooi kan wees. Dis ons doelwit.”

Erasmus het, volgens Proudfoot, sedert sy terugkeer na die Suid-Afrikaanse Rugbyunie (Saru) van sy Ierse draai, van die eerste dag af sy planne duidelik uitgestippel.

“Ons as die bestuurspan, gedryf deur Rassie, het ’n proses begin waar ’n span ontwikkel word wat mededingend in die Wêreldbeker en verteenwoordigend van Suid-Afrika is.

As Rassie en ons afgedank word weens ons uitslae of ’n individuele toets, moet dit dan gebeur.

“Ons as die bestuurspan is bereid om die span te dien. Ons wil hê die groep moet oor die volgende tien jaar mededingend in Wêreldbekers wees. Rassie het van die eerste dag gesê dis wat ons moet doen.

“Dit gaan nie net daaroor om ’n groep spelers bymekaar te kry wat ’n individuele kragmeting wen nie.

“Een ding is seker, al gebeur daar vandeesweek ’n klomp goed weg van die speelveld, sal ons steeds Saterdag ’n goeie vertoning lewer.”

Proudfoot-hulle is terdeë bewus van ondersteuners se kritiek nadat die Bokke in agtereenvolgende toetse teen Argentinië en ’n verswakte Australiese span verloor het.

“Maar daar is net soveel mense wat ons ondersteun soos daar is wat ons kritiseer. Ek kan jou my foon wys met al die boodskappe van onder andere oud-spelers wat sê volhard met wat julle doen. Hulle sien die verandering. Hulle kan sien wat die span op die veld doen.

“Foute gaan insluip as jy ’n span ontwikkel. Daar is egter nie ’n gebrek aan toewyding in die span nie. Dít wys in ons vertonings in die tweede helftes van ons toetse. Ons uitvoering moet nou verbeter. Dit sal met ervaring verbeter.”

Damian de Allende en die Wallaby-vleuel Marika Koroibete leer mekaar beter ken in Brisbane. De Allende sê Erasmus het die Bokke se planne vereenvoudig sedert hy aan die stuur van die span is. Foto: Getty Images

Elke Bok-speler, van nommer een tot 23, glo volgens die Bokke se voorspeler-afrigter dat hulle die All Blacks kan klop.

“As dit nie die geval is nie, hoort jy nie in ’n internasionale span nie. Ons het 31 spelers in die groep wat sal doodgaan vir die kans om teen die All Blacks te speel.

“Ons is egter so 50% waar ons (met die span) wil wees. Jacques Nienaber (verdedigingsafrigter) sou as hy hier gesit het dalk ’n bietjie krities oor sy verdediging wees en meer van sy spelers verwag. Ons dra die bal goed, soos statistieke weerspieël. Ons aanvallende spel het verbeter en ons het vertroue daarin.

“Uit die oogpunt van die agttal, is ek tevrede met die wyse hoe ons teen die Wallabies gedryfmaal het. Ek sal ons skrums op dieselfde vlak wil hê en daardie swak oomblikke met ons lynstane wil uitskakel.”

De Allende, wat sy plek op binnesenter vir Saterdag se toets behou, meen Erasmus het planne vir die spelers vereenvoudig sedert hy aan boord gekom het.

“Soms neig ons Suid-Afrikaners om dinge te ingewikkeld te maak,” het De Allende gesê.

“Rassie het dit eenvoudig gemaak. Rassie het ook ’n totaal verskillende uitkyk oor die spel, wat lekker is. Hy gee ’n nuwe dimensie van hoe ons na dinge op die veld kyk.”

Die spelers is volgens Louw, wat op die Bok-bank in die Westpac-stadion sal sit, nietemin bewus dat hul ondersteuners intussen die gewenste uitslae soek.

“Ons as spelers se onmiddellike doelwit is steeds om goed te speel en te wen,” het Louw gesê.

“Die ander een is om die groep uit te bou. Dit is nie in die spelers se hande nie. Die afrigters sal dit hanteer om diepte in die groep met die oog op die Wêreldbeker uit te brei.

“Ons as spelers wil weekliks net so goed as moontlik speel. Ons wil daardie seges behaal. Die groter prentjie is wel om ons groep sterk te kry vir die Wêreldbeker en daarna.”

Rugbykampioenskap: Bepalings

Rugbykampioenskap: Puntelys

Rugbykampioenskap: Uitslae

Meer oor:  Bokke  |  Toetsrugby  |  Rugbykampioenskap  |  Springbokke  |  Rassie Erasmus  |  All Blacks
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.