
CJ Stander sien skynbaar daarna uit om weer teen die Springbokke te speel. Foto: Getty Images
Ierland se Suid-Afrikaans gebore losvoorspeler CJ Stander is uitgevra oor Rassie Erasmus se bewering dat sy aangenome land se voorspelers “sag” is.
Erasmus, Springbokafrigter op verlede jaar se Wêreldbekertoernooi, het Stander gebrei toe hy destyds die Ierse klub Munster se direkteur van rugby was.
Erasmus, in die dokumentêr Chasing the Sun, beskryf Wallis as “taai” – in vergelyking met sy waarneming van Ierland en Engeland se swak plekke – voor hul kragmeting teen die Bokke in die halfeindstryd in Japan.
“Dit is ’n bietjie van ’n uitdaging. As dit sy mening is en wat hy glo, sou ek hom nie regtig wou verkeerd bewys nie, maar hom wys wat ons kan doen en wat ons al voorheen vermag het,” sê Stander in die aanloop tot Ierland se Nasiesbekertoets die naweek teen Engeland op Twickenham.
“Dit was ’n groot verklaring om te maak,” meen Stander, kaptein van die Suid-Afrikaanse o.20-span in 2010.
“Hy het dit gesê so, jy weet, dit is sy prerogatief. As dit is wat hy van ons gedink het, gaan dit nie maklik wees om hom van mening te laat verander nie.
“Gelukkig speel ons nie vandeesweek teen hulle nie. Ons sal hulle iewers in die toekoms kry.”
Sy spanmaat Quinn Roux, wat ook in Suid-Afrika gebore is, wou hom nie oor Erasmus se kommentaar uitlaat nie.
“Ek steur my nie veel daaraan nie. Daardie tipe goed gaan ons nie juis beïnvloed nie, of hoe?” sê hy.
• Stander is ook uitgevra oor sy onderonsie met die Engelse kaptein, Owen Farrell, in die Sesnasiesreeks in Februarie.
Hy is daarvan oortuig hy geniet die ondersteuning van sy afrigter en Farrell se pa, Andy, indien hulle weer handgemeen raak.

Stander en Owen Farrell gedurende hul onderonsie in Februarie. Foto: Getty Images
Dit het destyds gegons oor Farrell, berug vir sy skouerlope en plettervatte sonder arms, se moedswillige gedrag. Beeldmateriaal van die losskakel/senter waar hy aan Stander se been vasklou, het opslae gemaak.
Farrell het op die grond gelê en Stander aan sy regterbeen vasgehou. Stander kon eenvoudig nie vir Farrell afskud nie en het hom saamgesleep in sy poging om van hom af weg te kom.
Die skeidsregter, Jaco Peyper van Suid-Afrika, het Farrell gestraf.
“Op die veld is hy net soos enige ander speler en ’n mens wil onder hulle inklim en jou ding doen. Ná die tyd sal ons eintlik saam lag,” sê Stander.
“As ek ’n bietjie jonger en onseker was, sou ek by myself dink ek gaan in die moeilikheid kom, maar ons het ’n taak om te verrig.
“Hy (Andy Farrell) is ons hoofafrigter, hy ondersteun ons en ons ondersteun hom. Ons speel teen Engeland en dit is ons teen hulle, so hy skaar hom agter ons.”
– IrishTimes, RugbyPass