Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
KYK: Etzebeth onderskep, nael 40 m vir drie

Suid-Afrika se Wêreldbeker-wenner Eben Etzebeth het in sy eerste wedstryd in Toulon se beginspan in die vierde minuut onderskep en 40 meter genael om te gaan druk in sy span se Top 14-wedstryd teen Clermont.

Toulon was Sondag met 41-19 aan die wenkant; hul agtste opeenvolgende oorwinning.

Eben Etzebeth is die naweek aangewys as Speler van die Wedstryd in die Franse Top 14-wedstryd teen Clermont. Die wedstryd was sy Top 14-buiging. Foto: Getty Images

Die Bok-slot was alomteenwoordig en is staande toegejuig toe hy met tien minute speeltyd oor vervang is.

Dié wedstryd was sy Top 14-buiging, nadat hy verlede week sy Europese Kampioenebeker-buiging vir Toulon teen London Irish gemaak het.

Sondag se wedstryd het afgeskop met ’n aankondiging van Toulon se omstrede president, Mourad Boudjellal, dat hy aan die einde van die seisoen klaarmaak, wat ’n einde maak aan ’n periode van agt jaar waarin sterspelers na die Mediterreense klub gelok is.

“Ek het probeer om die klub se lot te verander en ek hoop iets daarvan sal oorbly,” het Boudjellal gesê, wat hoëprofielspelers soos Jonny Wilkinson, Matt Giteau, Bryan Habana, Bakkies Botha en Carl Hayman na die klub gebring het en die span tot drie Europese titels gehelp het.

Ander Suid-Afrikaners wat tans by Toulon speel, sluit in die stutte Marcel van der Merwe en Wilco Louw, en die skrumskakel Louis Schreuder.

Die jongste hoëprofielspeler, Etzebeth, was die naweek in ’n verwoestende bui.

Die 28-jarige Kapenaar het verlede week in die Europese Kampioenebeker-reeks as plaasvervanger byna dadelik met sy krag en lynstaanwerk ’n indruk in die wedstryd gemaak.

Sondag was dit egter sy verbysterende vaart wat die rugbywêreld laat regop sit het.

Etzebeth se peil teen Clermont Sondag was uitstekend en hy is aangewys as die Speler van die Wedstryd vir sy vertoning.

Die Wêreldbeker-wenner het aan die begin van die maand vanaf sy Kaapse Superrugby-franchise, die Stormers, na Toulon geskuif.

Volgens AFP is daar baie kommentaar gelewer oor hoe Etzebeth ná slegs twee weke, homself as ’n leier gevestig het in Toulon se span.

Dis omtrent ’n prestasie vir iemand wat in ’n span vol spelers is wat Frans as moedertaal besig. – Sportredaksie

Meer oor:  Frankryk  |  Toulon  |  Eben Etzebeth  |  Top 14  |  Rugby
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.