Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
KYK: Gespot, gekla oor SA span se haka

Die rugbyspan van die Walter Sisulu-Universiteit (WSU) het vandeesweek vir omstredenheid gesorg deur ’n haka te doen voor sy openingswedstryd van die Varsityskild-reeks, maar sy kaptein hou vol dit is eenvoudig ’n teken van respek.

Die WSU se Varsityskild-span doen die haka voor die begin van hul eerste wedstryd in die reeks. Foto: Varsitycup.co.za

Die span, met die bynaam die All Blacks, het Maandag sy weergawe van die Kiwi’s se Kapa O Pango-haka teen die Durban-Universiteit vir Tegnologie se Rhinos uitgevoer. Die WSU het 22 drieë gedruk en die kragmeting met 136-11 gewen, maar dit was nie eindtelling wat die meeste aandag getrek het nie.

Stuff berig ’n video van die haka is wyd op sosiale media versprei en sommige Nieu-Seelanders was nie beïndruk nie.

Daar is diegene wat dit as “oneerbiedig”, “in swak smaak” en “beledigend teenoor die Maori-gemeenskap” beskryf, terwyl ander vra waarom die WSU nie van die Suid-Afrikaanse kultuur gebruik maak vir inspirasie nie.

Litha Nkula, kaptein van die WSU, het aan varsitycup.co.za verduidelik hoekom sy span die haka gebruik.

Volgens hom bewonder die WSU, wat hom in 2017 by die Varsityskild-reeks aangesluit het, die All Blacks se opwindende spelpatroon sedert hul oorwinning by die Wêreldbekertoernooi in 2015.

“Met my aankoms by WSU het ons ontslape afrigter Sipho Metula ons stories vertel oor hoe sy span Nieu-Seelandse spelers as ikone beskou en daaruit inspirasie put,” sê hy.

Yanga Wani, voormalige WSU-speler, het voorgestel dat die span ’n haka doen om die spelers te motiveer, maar dit is aanvanklik ná wedstryde as ’n viering uitgevoer.

“Die spelers wou die haka doen, want hulle bewonder die wyse waarop die All Blacks speel,” sê Nkula.

“Die spelers het die inisiatief geneem om te probeer verstaan waarom die All Blacks dit doen. Ons het die haka gekies oor die tipe rugby wat ons speel. Ons meet ons aan die standaarde van Nieu-Seelandse rugby, ons wil soos hulle speel.”

Hy sê die haka vermaak hulle, maar verskaf ook ’n ernstige fokus voor wedstryde.

“Dit is nou deel van ons kultuur. Ons verduidelik dit so aan ons nuwe spelers. Dit is hoekom ons voel ons kan nie daarsonder speel nie. Dit is deel van ons spankultuur, al het ons dit by Nieu-Seeland gekry.”

Nkula beklemtoon die WSU het geen oneerbiedige bedoelings teenoor die All Blacks nie. Hy sê die span sal sy haka staak net indien die Nieu-Seelanders so ’n opdrag gee.

Op die vraag hoekom sy span nie ’n tradisionele Suid-Afrikaanse oorlogdans uitvoer nie, sê hy: “Dit is onwaar dat ons niks van ons eie tradisies en kultuur doen nie. Ons sing 'Amagwijo' voor wedstryde, by oefeninge en op pad na kragmetings, maar die haka het eenvoudig ’n groot invloed op ons.”

Hoewel daar  in sekere kringe groot ontevredenheid oor die kwessie heers, berig Newshub die Nieu-Seelandse Rugbyunie (NZR) het nie ’n probleem daarmee dat ’n Suid-Afrikaanse span die Kapa o Pango-haka doen nie.

Volgens ’n NZR-woordvoerder beskou hulle dit as piekfyn solank die haka met “respek en begrip” uitgevoer word.

– Sportredaksie

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.