Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
KYK: Hulle heet nie almal ‘haka’ nie
WELLINGTON, NEW ZEALAND - SEPTEMBER 15:  New Zeala
Die All Blacks daag die Bokke uit met die wêreld se beroemdste oorlogskreet. Foto: Getty Images

Die Wêreldbekertoernooi begin op 20 September in Japan en soos gebruiklik sal Nieu-Seeland, Samoa, Tonga en Fidji almal hul nasionale oorlogskreet voor elke wedstryd uitvoer in een van rugby se bekendste tradisies.

Die Hollywood-akteur Dwayne (The Rock) Johnson was onlangs vinnig om mense te korrigeer wat sy oorlogsdans in die rolprent Fast & Furious Presents: Hobbs & Shaw as ’n haka beskryf het.

“Dit is nie ’n haka nie, maar die Siva Tau,” sê die bes betaalde akteur op Forbes se 2019-lys.

“Jy kan seker die Siva Tau as die Samoaanse weergawe van die Nieu-Seelandse haka beskryf, maar dit is twee verskillende ondervindings.”

Die Suidsee-eilandspanne maak gereeld dieselfde regstelling oor hul onderskeie oorlogskrete wat glo die gees van die voorvaders oproep, die spelers geestelik op die kragmeting voorberei en die teenstanders vir oulaas waarsku dat die span gereed is vir die stryd.

Dit is egter net die Kiwi’s wat die haka uitvoer. Die Samoane doen die Siva Tau, Tonga die Sipi Tau en Fidji die Cibi.

* Die All Blacks se hakas Ka Mate en Kapa O Pango

Die Nieu-Seelandse hakas is waarskynlik die bekendste van die oorlogskrete.

Dit is gebore in die Maori-kultuur as ’n seremoniële dans of uitdaging en die Ka Mate is vir die eerste keer in 1888 op die destydse Nieu-Seelandse Aborigine-toer uitgevoer, met die All Blacks wat dit sedert 1905 gebruik.

Haka Ka Mate is omstreeks 1820 deur Te Rauparaha, hoof van die Ngati Toa-stam, as ’n viering van lewe oor dood geskep.

Haka Kapa O Pango is in 2005 in Dunedin vir die eerste keer in ’n Drienasies-toets tussen die All Blacks en Springbokke uitgevoer.

Dit het destyds kritiek ontlok omdat sommiges gemeen het die gebaar aan die einde waar die duim oor die keel getrek word is “gewelddadig”. Maar Derek Lardelli, skepper van die Kapa O Pango, het verduidelik dit simboliseer nie ’n dreigement nie, maar eerder die “lewensasem” wat spelers inspan vir energie voor ’n wedstryd.

* Samoa se Siva Tau

Die Siva Tau het die Ma’ulu’ulu Moa by die WB-toernooi in 1991 as ’n vinniger, meer intimiderende oorlogskreet vervang.

Tino Junior Poluleuligaga, voormalige Samoaanse skrumskakel, sê die Siva Tau is ’n uitnodiging vir oorlog.

“Met die Siva Tau sê ons basies wie ons is, dat ons gereed is vir die stryd en dat daar niemand anders soos die Samoane is nie,” sê hy.

“Wanneer ek die Siva Tau uitvoer, dink ek aan my gesin, ek verteenwoordig hulle, so wanneer ek op die veld draf, gaan voer ek ’n stryd vir my familie.”

* Tonga se Sipi Tau

Tonga het dié oorlogskreet vir die eerste in Suid-Afrika by die WB-toernooi in 1995 uitgevoer.

Die Sipi Tau is in 1994 deur koning Tama Tu’i Tufahau Tupou IV geskep, maar die kreet se oorsprong loop diep in die geskiedenis.

“Dit was destyds taamlik lank en het twee minute geneem om uit te voer, maar deesdae se korter weergawe van 30 sekondes is steeds nogal verwoed,” sê die voormalige kaptein Inoke Afeaki, wat die span in ’95 in Suid-Afrika aangevoer het.

Volgens Afeaki is die Sipi Tau ’n oproep van die gees van Tonga se ridder-voorvaders.

* Fidji se Cibi

Die Cibi (uitgespreek as vim-bi) is in 1939 vir Fidji se eerste toer na Nieu-Seeland geskep.

Dit is gedoen op die versoek van die span se kaptein, sir George Cakobau, wat ’n oorlogskreet wou hê om met All Blacks se Ka Mate-haka mee te ding.

Dit moes gewerk het, want sir George se span is steeds die enigste span in die geskiedenis om ’n volle toer na Nieu-Seeland onoorwonne af te sluit.

– Sportredaksie

Meer oor:  Haka  |  Toetsrugby  |  Wêreldbekerrugby
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.