Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
KYK: Itoje vertel oud-All Black van Bok-pyn

Die Engelse slot Maro Itoje erken die loesing teen die Springbokke in die Wêreldbekereindstryd in November het so seergemaak dat dit die opskorting van die sport weens die Covid-19-pandemie geverg het vir hom om die nederlaag in oënskou te neem.

Maro Itoje sê hy kon homself vir lank nie so ver kry om Engeland se nederlaag teen die Bokke in Jokohama, Japan, op televisie te kyk nie. Foto: Getty Images

Die 25-jarige Saracens-ster was ’n gas op die legendariese All Black-losskakel Dan Carter se Instagram-reeks Kickin’ It.

“Die eindstryd was ongelooflik teleurstellend en dit het my lank gevat om die moed bymekaar te skraap om dit te kyk. Dit was te pynlik,” sê Itoje.

“Die eerste keer wat ek dit gekyk het was tydens die inperking en ek wou lesse daaruit leer. Daar is altyd lesse te leer uit oorwinnings en nederlae en om my emosies toe te laat om die wedstryd te kyk, sal van my ’n beter speler maak. Dit was steeds pynlik om te kyk, maar ek is meer optimisties oor die toekoms as die verlede en ons het baie goeie jare in ons oor.”

Carter het Wêreldbeker-hartseer in 2003 en 2007 beleef voordat Nieu-Seeland twee agtereenvolgende titels in 2011 en 2015 verower het.

Hy sê egter hy het versuim om genoeg te leer uit die All Blacks se nederlaag teen Australië in Sydney 17 jaar gelede.

“Ek is op ’n snaakse manier bly dat Maro ’n bietjie pyn verduur, want ek het my eerste Wêreldbeker-teleurstelling in 2003 binne vier of vyf dae verwerk,” sê Carter.

“Ek het daarna baie sukses geniet en by die toernooi in 2007 aangekom sonder soveel pyn soos wat ek waarskynlik moes gevoel het ná 2003. Die Franse het in die kwarteindstryd met ons afgereken en daardie nederlaag het vir goed ses maande seergemaak.”

Hy sê hoewel dit pynlik was, begin jy as ’n span verstaan wat verkeerd geloop het en hulle het erken dat hulle nie ’n goeie span was wat druk betref nie.

“Ek sê nie Engeland is dieselfde as ons nie, maar daar is iets in die nederlaag waaruit hulle kan leer en wat hulle sterker sal maak. Ons het ons lesse uit 2007 geleer en dit het die fondament verskaf vir ons om sukses in 2011 en 2015 te behaal,” sê Carter.

“Engeland het nou ’n klomp ouens wat weet wat dit verg om die eindstryd te haal maar te misluk en dit sal seermaak. Maar dit sal hulle honger voed om oor vier jaar terug te keer.”

Itoje dink die Covid-19-inperking kan ’n bedekte seën vir hom en Engeland wees omdat dit hom die geleentheid bied om finaal van sy knaende beserings te herstel.

“Die inperking het gewys dat rugby nogal kwesbaar kan wees, nie net op ’n individuele vlak nie, maar ook op ’n globale skaal. Jy moet meer as een pyl in jou koker hê,” sê hy.

Carter het Itoje raad gegee vir sy loopbaan.

“ ’n Mens kan gedurende die inperking net soveel oefen. Dit is ’n bedekte seën en dit noop jou om oor jou belangstellings buite rugby te dink en hoe jou lewe sal lyk sodra jou speeldae verby is,” sê Carter.

“Die inperking is ’n baie goeie geleentheid vir spelers om hierdie proses te ervaar en hulle sou waarskynlik nie vooraf veel daaraan gedink het nie.” – Sportredaksie

Meer oor:  Maro Itoje  |  Koronavirus  |  Bokke  |  Toetsrugby  |  Springbokke  |  All Blacks  |  Covid-19  |  Wêreldbekerrugby  |  Dan Carter
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.