
Virimi Vakatawa het in Racing se wedstryd teen Toulon letterlik die bal laat val. Foto: Getty Images
Virimi Vakatawa, stersenter van die Franse klubspan Racing 92, het die naweek in ’n oogwink van ’n held in ’n skurk verander toe hy sy span ’n broodnodige drie in ’n Top 14-nederlaag van 23-29 teen Toulon gekos het.
Die flater het gebeur toe Vakatawa nonchalant oor die doellyn draf en versuim om die bal betyds te druk voordat die Toulon-vleuel Gabin Villiere hom van agter af verras.
Die bal het in die laagvat verlore geraak en oor die doodlyn gerol.
Racing se vleuel Teddy Thomas het uitstekende werk gedoen in die aanloop tot die amper-drie deur drie verdedigers te trek en die bal met ’n basketbal-aangee terug aan Vakatawa te besorg.