Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
KYK: Kriel steun SA se Sanzaar-uittog

Een van Gloucester se nuutste aanwinste, die Springbok-losvoorspeler Jaco Kriel, glo Suid-Afrikaanse spanne moet hulle by Europese rugbyreekse aansluit.

Jaco Kriel glo Suid-Afrikaanse rugby se heil lê in Europa. Foto: Getty Images

Die 29-jarige Kriel, wat 11 toetse vir die Bokke gespeel het, het verlede seisoen se Superrugbyveldtog saam met die Leeus weens ’n skouerbesering misgeloop.

Hy is een van verskeie Suid-Afrikaners wat deur Gloucester se afrigter en die voormalige Leeus-breier, Johan Ackermann, by die Engelse klubspan betrek is om ’n aanslag op die Premierliga-titel te loods.

Ander spelers met Suid-Afrikaanse wortels by die klub is Ruan Dreyer, Gerbrandt Grobler, Franco Marais en Ruan Ackermann.

Rugby365.com berig Kriel glo ander Suid-Afrikaanse franchises moet die Cheetahs en die Kings se voorbeeld volg en oorweeg om in Europa en die Pro14-reeks hul rugby te speel.

“Ja, verseker, ek is ’n groot ondersteuner van die gedagte dat meer spanne van Suid-Afrika na Europa skuif,” sê Kriel.

“Ek glo dit het goeie geleenthede vir die Cheetahs en die Kings geskep. Hoewel die Kings nie so goed vertoon het nie, skep dit steeds goeie geleenthede vir die spelers om op ’n hoër vlak van rugby raakgesien te word.

“Ek glo dis die weg vir sommige van die groter unies in die nabye toekoms om reis te vergemaklik. Met Superrugby, om na Nieu-Seeland, Australië, Argentinië en Japan te reis, dit maak sake moeilik vir beroepsportlui.

“As jy hier (Europa) rondreis, is die tydsverskil slegs een of twee uur en jy meet jouself op ’n heel ander vlak in terme van die weer, velde en rugby, so ek glo dit is die weg vorentoe.”

Hy het hom ook uitgelaat oor sy spanmaat Danny Cipriani se boete weens sy onlangse optrede by ’n nagklub en erken die mediastorm het hom onkant gevang.

Cipriani is verlede week in Jersey, waar Gloucester op ’n voorseisoense oefenkamp was, deur ’n landdros skuldig bevind op aanklagte van aanranding en verset teen inhegtenisneming.

Dít het gevolg op ’n voorval waartydens ’n polisievrou beseer is ná ’n onderonsie by ’n nagklub, waar Cipriani aanvanklik met ’n uitsmyter slaags geraak het.

Cipriani is met £2 000 (sowat R37 000) beboet en hy moes ook vergoeding van £250 aan die beseerde polisievrou betaal.

“Dit was eintlik nogal vreesaanjaend om te sien, om daarvan deel te wees omdat hy ons spanmaat is,” sê Kriel.

“Terug in Suid-Afrika kry jy nie daardie soort ophef in die media oor ’n speler nie. Ek kry hom eintlik jammer, want hy kan nie ’n voet verkeerd sit nie en almal weet daarvan.

“Almal in die lewe maak foute maak nie saak wat jy doen nie. Ons ondersteun hom soveel ons kan, hy is een van ons.”

– Sportredaksie

Meer oor:  Gloucester  |  Bokke  |  Danny Cipriani  |  Pro14  |  Toetsrugby  |  Springbokke  |  Superrugby  |  Jaco Kriel  |  Curriebeker
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.