Eddie Jones, soos sy Engelse rugbyspan, is weer op dreef ná afloop van Sondag se oorwinning met 24-12 oor Ierland op Twickenham.
Die uitgesproke afrigter voer aan sy Rose het in so ’n mate oorheers “ons kon teen rustyd verklaar het”.

Eddie Jones, Engeland se uitgesproke afrigter. Foto: Getty Images
’n Opgewekte Jones – ’n stoere krieketaanhanger – het die vergelyking met die somersport getref in sy opsomming van die Sesnasies-kragmeting.
Die Aussie het in die aanloop tot Sondag se wedstryd baie kritiek verduur vir die nederlaag in die eerste ronde teen Frankryk en die sukkelwen daarna teen Skotland. Hy was egter in sy noppies met die Rose se vertoning teen die Iere nadat sy span teen rustyd reeds met 17-0 voorgeloop het.
Engeland het daarmee sy kans om die Sesnasies-kroon te dra lewend gehou, hoewel die Franse steeds onoorwonne is met twee rondes oor.
Engeland speel oor twee weke gasheer vir Wallis in die voorlaaste ronde van die reeks.
“Ons het baie beheer uitgestal, ons het die omstandighede en die skeidsregter goed gelees en teen rustyd, as dit ’n krieketwedstryd was, sou ons kon verklaar het,” sê Jones.
“Ons verbeter elke week. Ons is eenvoudig fikser, ons is in staat om met meer intensiteit te speel en ons sal nog beter wees teen Wallis.”
Hy het ook ’n hou gegooi na kritici wat sy spankeuses teen die Iere bevraagteken het, veral sy besluit om vier slotte in sy 23-tal te kies.
“Ek benodig nie regverdiging nie, ek kies net die span en wag om te sien wat julle ouens en die kenners daaroor skryf. Miskien sal ons volgende week ses slotte kies en vir julle iets gee om oor te skryf,” sê hy.
“Die Sesnasies is ’n ander tipe rugby. Mense wil ’n oop wedstryd met lang aangeë sien, maar dit is eenvoudig nie so nie. Die omstandighede verhoed dit, asook die intensiteit en die wedywering – dit is ’n ander tipe spel.”
Owen Farrell, Engeland se kaptein, is ook opgewek nadat hy ’n oorwinning oor Ierland se afrigter en sy pa, Andy Farrell, behaal het.
“Ons was baie konsekwent in die eerste helfte en die wyse waarop ons voorberei het, het ons die selfvertroue gegee om so te vertoon,” sê hy.
“Ons voel ons het weer iets opgebou en ’n goeie vertoning gelewer, maar ons het nog baie om te gee.”
– Reuters, Sportredaksie