’n Groep Russiese vrouerugbyspelers het ’n punk rock-groep gestig en bring in hul nuwe musiekvideo hulde aan Engeland om dankie te sê vir die ontstaan van die spel.
The Rugbystols is egter in hegtenis geneem toe hulle met die maak van die video op die Moskva-rivier verby die Engelse ambassade in Moskou seil en die polisie se aandag trek.
Die groep het ’n banier met die woorde “Engeland, dankie vir rugby!” van die boonste dek van die boot ontvou. Die liedjie wat hulle opgevoer het – ook getiteld “Engeland, dankie vir rugby!” – word gesing op die maat van die Sex Pistols se treffer “God Save The Queen”.
Rugbydump berig die lede van die groep het verskeie ure by ’n plaaslike polisiekantoor deurgebring waar hulle ondervra is.
The Rugbystols het glo met die polisie onderhandel en ’n ooreenkoms bereik, waarna die musiekvideo voltooi is. Daar is selfs beeldmateriaal van polisielede wat die groep vroue op die boot konfronteer wat in die video ingesluit is.
“Ek en my vriendinne speel die afgelope vyf jaar rugby en ons is baie dankbaar vir Engeland dat hulle ons gunsteling sport uitgedink het,” sê Victoria Em, beroepspeler en voorsanger van The Rugbystols.
“Ons wil onverdeeld ons gevoelens met die mense van Engeland deel en terselfdertyd die aandag van Russiese sportaanhangers op rugby vestig.
“Ons is geïnspireer deur die treffer van die Britse punk-groep die Sex Pistols.
“Ja, ons het inderdaad die polisie teëgekom terwyl ons die video verfilm het, maar ons sport is vir nie vir bangbroeke nie. Ons het twee ure op die boot spandeer en drie ure in die polisiekantoor deurgebring, maar ons het suksesvol voltooi wat ons begin het.
“Ons hoop dat die mense in rugby se geboorteland ons video geniet en besef hierdie wonderlike sport word beoefen en bemin in Rusland.”
– Sportredaksie