Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
KYK: Rassie amper klaar gemeet en pas

Rassie Erasmus, afrigter van die Springbok-rugbyspan, beplan nie enige verdere proefnemings met spelers en kombinasies ná die Rugbykampioenskap nie.

Rassie Erasmus sê as die Bokke Saterdag in Wellington wen, sal die lewe weer goed wees. Foto: Getty Images

Hy wil hê sy kombinasies – en die span as ’n eenheid – moet dan in die oorblywende toetse voor volgende jaar se Wêreldbeker-toernooi in Japan kans kry om te groei en hul samespel verbeter.

“Ek glo aan die einde van die Rugbykampioenskap sal ons klaar getoets, gemeet en gepas wees,” het die Springbok-afrigter gesê.

“As ons die einde van die jaar Europa toe gaan, sal jy met jou beste groep gaan en elke toets ten alle koste probeer wen. Ons probeer dít ook nou doen, maar probeer meer bou.”

Die proefnemings wat hy in Mendoza en Brisbane gemaak het, het ’n invloed op die Bokke se wisselvallige spel teen Argentinië en Australië gehad. Die Bokke se afronding was met tye swak in die toetse.

Skuif ’n mens ook die emosie van die teleurstellende uitslae in dié twee Rugbykampioenskapstoetse opsy, was die Bokke op kritieke tye van die kragmetings meestal aan die verkeerde kant van die skeidsregters se beslissings.

Erasmus het egter gesê die span wat hy vir Saterdag se toets in Wellington teen die All Blacks gekies het, is sy sterkste beskikbare span.

“Hierdie is nou die naaste aan ons sterkste span uit die sewe toetse wat ons vanjaar gespeel het. Ons sal ná die toets (teen die All Blacks) weet waar ons met Suid-Afrikaanse rugby staan.”

Die proses om Suid-Afrikaanse rugby weer gesond te maak moet op koers bly.

Dit was volgens hom altyd sy plan om proefnemings teen Argentinië en Australië te maak en dan sy sterkste span teen die All Blacks te kies.

Deel van sy aanvanklike plan voor die onverwagse nederlaag teen Argentinië in Mendoza was om ’n groep spelers vooruit na Wellington te stuur. Hy wou sodoende die ekstra vlugte tussen Sydney, Brisbane en Wellington vir ’n groep eerstekeuse-spelers uitskakel. Hoofsaaklik om uitgerus vir die toets teen die All Blacks te wees.

Terwyl die Bokke sover baie in die Rugbykampioenskap moes rondvlieg, wag die All Blacks reeds die afgelope drie weke op die Suid-Afrikaners. Baie van hul eerstekeuse-spelers het ook nie verlede naweek teen die Poemas gespeel nie.

Willie le Roux, wat ’n paar keer bottervingers in die toets teen die Wallabies gehad het, keer ná die toets teen die All Blacks terug na sy Engelse klubspan. Foto: Getty Images

Erasmus wou ook die agtsteman Duane Vermeulen vir die toets teen die All Blacks betrek, maar dit het nie uitgewerk nie. Hy is ondanks sy verpligtinge by sy Japanse klubspan, Kubota Spears, wel vir die einde van die jaar se toer na Europa beskikbaar.

Op ’n vraag deur ’n Kiwi-joernalis wat ’n verrassende sege oor die All Blacks die naweek sal beteken, het Erasmus met ’n breë glimlag geantwoord dat die lewe dan weer goed sal wees.

“Almal weet as jy Nieu-Seeland in Nieu-Seeland klop, is jy terug waar jy wil wees. Jou beplanning sal dan weer op koers wees. Jy kan dan aan jouself sê ons is werklike aanspraakmakers vir volgende jaar se Wêreldbeker. Dis hoe ons dit sien en dis ’n feit, hoewel dit nie die naweek se uitdagings enigsins makliker maak nie.”

Verlig dit die druk op Erasmus dat die president van die Suid-Afrikaanse Rugbyunie (Saru), Mark Alexander, aan die webtuiste www.keo.co.za gesê het dat die uitslag van die toets teen die All Blacks nie sy posisie tot minstens ná volgende jaar se Wêreldbeker-toernooi sal beïnvloed nie?

“Ek weet nie of dit ’n goeie of slegte ding is as hulle daardie soort dinge sê nie. Ons soek werklik na langtermynoplossings vir Suid-Afrikaanse rugby. Ons wil nie krisisbestuur toepas deur ouer spelers te kies en net weekliks die volgende toets te wen nie.

“Die proses om Suid-Afrikaanse rugby weer gesond te maak moet op koers bly. As ek, iemand anders of van die spelers moet terugstaan, dan is dit so. Dis nietemin gaaf dat dit (deur Alexander) gesê word. Op die ou end is dit tog uitslae wat tel,” sê hy.

* Erasmus het bevestig as daar nie ernstige beserings is nie, sal Willie le Roux (Wasps) en Francois Louw (Bath) ná die naweek se toets na hul oorsese klubspanne terugkeer.

Rugbykampioenskap: Bepalings

Rugbykampioenskap: Puntelys

Rugbykampioenskap: Uitslae

Meer oor:  Bokke  |  Toetsrugby  |  Rugbykampioenskap  |  Springbokke  |  Rassie Erasmus  |  All Blacks
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.