Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
KYK: Rassie leer Bok André om te ‘Farrell’

’n Video waarin die Springbok-afrigter, Rassie Erasmus, oënskynlik gedurende ’n oefensessie in Parys vir die senter André Esterhuizen touwys maak om ’n skouerloop uit te voer, het mense aan die gons op sosiale media.

Dit volg ná die omstredenheid van Engeland se losskakel, Owen Farrell, wat Esterhuizen Saterdag op Twickenham in die laaste beweging van die toets teen die Springbokke met ’n ooglopende skouerloop geduik het sonder om sy arms te gebruik.

Die Australiese blaser, Angus Gardner, het besluit die plettervat was binne die reëls en het die Bokke daarmee van ’n kans beroof om die toets moontlik met ’n strafdoel te wen. Engeland het 12-11 geseëvier.

Die uitwysbeampte, die Nieu-Seelander Keith Brown, het daarna ook besluit om nie verder teen Farrell op te tree nie.

Erasmus het agterna gesê Farrell se duikslag was baie “doeltreffend”. Toe hy gevra is of hy dit sarkasties bedoel, het hy geantwoord: “Nee, as dit toelaatbaar is, moet almal so duik.”

Maandag in Parys het die Bokbreier gesê hy hoop Wêreldrugby sal duidelikheid gee oor die voorval.

“As dit die soort duikslae is wat binne die reëls is, is dit iets wat alle spanne veronderstel is om te kan doen.

“Daar moet dan net duidelikheid daaroor wees. As dit aanvaarbaar is, is die saak reg.”

Owen Farrell loop André Esterhuizen op Twickenham. Foto: AP

Op die video kan gesien word hoe Erasmus en Jacques Nienaber, die Bokke se verdedigingsafrigter, Esterhuizen aanmoedig om ’n duiksak hoog en met die skouer te loop.

Die Bok-senter Damian de Allende is Dinsdag op 'n mediakonferensie gevra of hy ook die "Farrell"-duikslag oefen. "Nee, maar ons het daaroor gesels. Daar is 'n groot bohaai oor die duikslag en dit is Wêreldrugby se standaard (wat gestel word). Daar was niks fout met die duikslag nie, so ons moet dit ook onder die knie probeer kry," het hy gesê.

Mzwandile Stick, een van die Bokke se hulpafrigters, is gevra of Erasmus nie net 'n bietjie pret op die oefenveld gehad het nie. "Ek kan ongelukkig nie uitwei oor wat in ons oefensessies gebeur nie. Hoe die video in die openbaar beland het, weet ons nie, maar ons probeer wel bybly met die jongste verwikkelinge," het hy geantwoord.


Meer oor:  Bokke  |  Jaareindtoer  |  André Esterhuizen  |  Skouerloop  |  Springbokke  |  Owen Farrell  |  Rassie Erasmus
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.