Die legendariese Springbokheld Joost van der Westhuizen sou die afgelope Saterdag sy 50ste verjaardag vier.

Joost van der Westhuizen in aksie vir die Bokke. Foto: Getty Images

’n Amerikaanse MNS-spesialis, dr. Erik Pioro van Ohio, het in Julie 2011 bevestig dat Joost aan amiotrofiese laterale sklerose (ALS) ly. Foto: Huisgenoot
Van der Westhuizen is in 2017 op die ouderdom van 45 jaar aan motorneuronsiekte (MNS) dood, maar sy nalatenskap is blywend.
Die voormalige Bok-skrumskakel was lid van die baanbrekers wat die Wêreldbekertoernooi in 1995 verower het en het tot 2003 in 89 toetse vir Suid-Afrika uitgedraf.
Hy het later weer harte gewen deur die durf en kanniedood veggees wat hy gewys het terwyl hy teen die verlammende effekte van MNS baklei het.
Van der Westhuizen, ’n lid van Wêreldrugby se Heldesaal, het in November 2011 die J9-stigting op die been gebring om ander MNS-lyers by te staan.
As ’n speler het hy die Webb Ellis-beker, die Drienasies-trofee en die Curriebeker-trofee gelig en homself gevestig as een van die beste skrumskakels wat die rugbywêreld nóg gesien het.