Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
Kolisi-stigting wil honger mae voer
Die glanspaartjie Siya (links) en Rachel Kolisi werp alles in die stryd om hospitale te help in die stryd teen die Covid-19-pandemie. Foto: Gallo Images

Eers handreiniger en maskers aan hospitale in die stryd teen die Covid-19-pandemie. Nou is die Kolisi-stigting se fokus daarop om kos aan behoeftige kinders en bejaardes te verskaf.

“Ons wil méér doen,” het Siya Kolisi, die Springbok-kaptein, aan Netwerk24 gesê nadat twee maande se voorraad van handreiniger en maskers aan hospitale geskenk is.

“Ons gaan mense voed om seker te maak dat hulle tuis bly gedurende die staat van inperking. As ons dít kan doen, kan dit baie help. Die fokus gaan op kinders wees, wat gewoonlik net op skool ’n maaltyd kry, en om na bejaardes om te sien.”

Kolisi beplan om saam met Food Forward SA te werk om kwesbare gemeenskappe te bereik.

Sy vrou, Rachel, sê hulle werk nog aan vennootskappe voordat dié projek eersdaags van stapel gestuur word.

“Ons wil eers net die vennootskappe vasmaak en seker maak dat ons skenking gebruik word vir dít wat ons in gedagte het. Dis nogal ’n proses om kos te vervoer en dit te kry by die monde wat gevoed moet word,” sê sy.

Die Kolisi’s het aanvanklik beplan om die stigting eers later op die been te bring en die eerste projek sou aanvanklik die opknap van fasiliteite en skep van ’n rugbyveld en netbalbane by ’n skool wees.

Ons gaan mense voer om seker te maak dat hulle tuis bly gedurende die staat van inperking. As ons dít kan doen, kan dit baie help.
Siya Kolisi

Kolisi het borge daarvoor gekry, maar met die Covid-19-pandemie besluit om ’n ander koers in te slaan.

“Ons kon hierdie pandemie nie ignoreer nie en daar is ongelooflike vennote aan boord. Vince Mai, wat my skoolfooie geborg het, Roc Nation (Kolisi se agentskap), Adidas, Aspen, Red Bull en Afribiz help almal,” sê Kolisi.

Oor waarmee hy homself tans besig hou, sê Kolisi dis ’n kombinasie van oefening, werk met sy stigting en gesinslewe.

“Ek oefen in die oggende met my swaer. Die fokus is op aangeewerk, duiktegnieke, vaardighede wat ek moet opknap en EyeGym (visuele oefeninge). Daarna verskuif die fokus na die stigting,” sê hy.

Die Springbok-kaptein, Siya Kolisi, en sy vrou, Rachel, vier die wen van die Wêreldbeker. Foto: Gallo Images

“As gesin kook ons en was ons saam die skottelgoed, en daar is huiswerk wat van die skool af gestuur word wat soms meer as vier ure in beslag neem. Almal het take om te verrig.”

Kolisi is filosofies oor Covid-19 se effek op die rugbyseisoen.

“Ons hanteer dit maar dag vir dag. Daar is nie veel wat ons kan doen nie,” sê hy.

“Ek fokus net op die oefening en werk so hard as moontlik. Hopelik kan die rugbyseisoen ná die inperking hervat. Almal het uitdagings, dis nie net ons nie. Ons moet enigiets wat ons kant toe kom net maak werk.

“Dobbo (die Stormers se afrigter, John Dobson) het baie gedoen om seker te maak dat ons alles kry wat ons nodig het om beter terug te keer.”

Meer oor:  Springbokke  |  Siya Kolisi  |  Covid-19  |  Rugby
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.