Is rugby vir die voëls?
Die jong ligaspeler Jack Skinner, wat vir die Parkes Spacemen-span in Australië uitdraf, kan dalk so dink nadat hy die slagoffer was van ’n genadelose aanval deur ’n meedoënlose ekster (magpie).
Beeldmateriaal wys hoe Skinner, wie se span toevallig teen die Magpies gespeel het, sonder sukses probeer om die orige voël te verjaag terwyl die kragmeting onverpoos voortgaan. Boonop wil dit voorkom asof Skinner met sy swaaiende arms en gestruikel die situasie net vererger.
Genadiglik kom sy afrigter tot die redding en help hom van die veld af.
Dit is skynbaar presies wat die ekster wou hê en vlieg weg kort nadat Skinner die veld verlaat het.
Luister in die agtergrond hoe die persoon wat die video van die voorval geneem het, nie sy lag kan hou nie.
– Sportredaksie