
Die tiener Joseph Suaalii het Australiërs op hol met sy talent op die rugbyveld. Foto: Getty Images
Australiese rugbyondersteuners het hierdie week omtrent vergeet dat daar hierdie week twee wedstryde in hul plaaslike Super-reeks gespeel word, só het dit oor die tienersensasie Joseph Suaalii gegons.
Suaalii is ’n 16-jarige speler, op wie die vyftienman-kode sowel as rugbyliga jag maak.
Hy het reeds op vleuel vir Australië se o.18-skolespan uitgedraf en daar is ’n kans dat hy ná 1 Augustus, wanneer hy 17 word, by een van die Superspanne betrek gaan word.
Daar is selfs gerugte dat hy geoormerk is om volgende jaar vir die Aussies se sewesspan in die Olimpiese Spele uit te draf.
Rugby Australië het hierdie week gesê dat ’n ander gerug, dat hy Suaalii vir A$3 miljoen (sowat R35 miljoen) gekontrakteer het, loutere onsin is.

Michael Hooper / Foto: Getty Images
Volgens ander berigte het dié jongeling egter reeds ’n kontrak met die rugbyligaspan South Sydney gesluit en sal meer besonderhede volgende maand bekend gemaak word.
Michael Hooper, die Wallabies se kaptein, het gesê hy sou dit “gehaat” het om as 16-jarige al so in die kollig te wees as wat Suaalii is.
Die Waratahs pak die Rebels intussen Vrydag in Sydney en die wedstryd word van 11:05 op SuperSport 1 uitgesaai.
Saterdag speel die Western Force en die Brumbies in nog ’n wedstryd in die reeks teen mekaar. – Reuters, smh.com.au, Fox Sports, Sportredaksie
Hier is hoogtepunte van die tienersensasie Joseph Suaalii in aksie: