
Die Australiese student Olivia Fox sing haar land se volkslied voor die begin van die toets tussen die Wallabies en die Poemas. Foto: Getty Images
Australië en Argentinië het Saterdag in die laaste Drienasiestoets van die jaar by die Bankwest-stadion in Parramatta in die weste van Sydney met 16-elk gelykop gespeel.
Die Wallaby-heelagter Reece Hodge het in die doodsnikke misluk met ’n strafdoelpoging om die wedstryd vir sy span in die nat toestande te wen. Dit is die derde keer vanjaar dat hy ’n soortgelyke kans deur sy vingers laat glip.

Nee wat . . . Reece Hodge mis vir die derde keer hierdie seisoen die geleentheid om sy span te laat wen. Foto: Getty Images
Die Poemas eindig danksy ’n beter punteverskil tweede agter die All Blacks in vanjaar se reeks, terwyl die Wallabies op tuisbodem met die houtlepel tevrede moet wees ná nog ’n teleurstellende vertoning.
Daar was gelykopuitslae in albei Drienasiestoetse waarin bogenoemde spanne vanjaar teen mekaar gespeel het. Die telling was 15-elk in Newcastle vroeër in die reeks.
Die Australiese student Olivia Fox het waarskynlik vir die hoogtepunt van die kragmeting gesorg met haar weergawe van “Advance Australia Fair” in ’n inheemse taal.
Dit was die eerste keer dat die Aussies hul volkslied in ’n inheemse taal by ’n internasionale byeenkoms gesing het.
Fox en die ganse Wallaby-span het die lied eers in die taal van die Eora-volk gesing voordat hulle dit in Engels herhaal het.
Die Wallaby-spelers, wat vir die tweede keer die seisoen ’n trui met ’n inheemse ontwerp gedra het, het vroeër besluit om nie vanjaar te kniel ter ondersteuning van die Black Lives Matter-beweging nie.
Hulle het gekies om eerder te fokus op huldeblyke aan hul land se inheemse bevolkings deur die dra van die spesiale trui en die merkwaardige weergawe van die volkslied.
• Puntemakers:
Wallabies 16 (6) – Drie: Michael Hooper. Doelskop: Reece Hodge. Strafdoele: Hodge (3).
Poemas (13) – Drie: Bautista Delguy. Doelskop: Domingo Miotti. Strafdoele: Nicolás Sánchez, Miotti (2).
– Reuters, Sportredaksie