Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
KYK: Wees geduldig met Rassie

Die All Blacks sal hulself altyd as die buiteperd beskou om sodoende nie ’n slagoffer van hul eie sukses te word nie.

Steve Hansen, die All Black-afrigter. Foto: Getty Images

Steve Hansen, Nieu-Seeland se afrigter, het Donderdag in Wellington, toe hy sy 23-tal vir Saterdag se Rugbykampioenskapstoets teen die Springbokke aangekondig het, lig gewerp waarom hy die woord “buiteperd” so mildelik voor toetse gebruik.

“Om aan die bopunt van die rugbywêreld te bly, moet jy die ingesteldheid van ’n buiteperd hê,” het Hansen verduidelik.

“As jy daarbo sit en dink dinge gaan goed met jou, sal jy nie te lank daar sit nie. Ons ingesteldheid moet altyd wees om beter as voorheen te wees.

“Ja, jy moet ook soms sê dit gaan goed. Maar ons moet onsself voortdurend uitdaag om tot ’n hoër vlak te klim. As jy dit doen, sal jy sien dat spelers harder en harder in oefeninge werk, veral as jy weekliks daardie afdelings uitlig waarin ons kan verbeter.

“Mededinging om plekke is nog ’n wyse om oorgerustheid uit te skakel.”

Al is die All Blacks in die oë van die ganse rugbywêreld en die Bokke die volslae gunsteling vir Saterdag se toets in die Westpac-stadion, meen Hansen hy en sy krygers verkies om die naelskraapse sege in die Kaap van 25-24 oor die Bokke, en nie die slagting van 57-0 in Albany, in 2017 te onthou nie.

“Jy onthou altyd die laaste kragmeting tussen die spanne en nie die een voor dít nie,” het die Kiwi-afrigter met ’n glimlag gesê.

Om aan die bopunt van die rugbywêreld te bly, moet jy die ingesteldheid van ’n buiteperd hê.
Steve Hansen

“Daar was net ’n verskil van ’n punt in die laaste toets. Enige span kon daardie toets gewen het. Ek reken hulle moet die gunstelinge wees. Dié is ’n toets teen ons tradisionele aartsvyand. Een teen wie ons ’n ongelooflike geskiedenis het. Almal sien uit na die toets.

“Ons weet Suid-Afrika sal desperaat wees om ’n goeie vertoning te lewer. Dis selde dat hulle drie keer op ’n streep verloor. Dis vir ons belangrik om te verseker dat ons sake in orde is en ons reg opdaag. Is dít die geval, sal dit een van daardie spesiale toetse wees.”

Hansen-hulle het die Bokke se spel vanjaar onder Rassie Erasmus met ’n skerp oog dopgehou.

“Hulle het ’n goeie begin teen Engeland gehad. Ek dink Engeland is ’n goeie span, wat Suid-Afrika dan ook ’n goeie span maak.

“Dis moeilik om van buite te sê wat die grootste veranderinge is sedert Rassie oorgeneem het, maar hulle lyk na ’n hegte eenheid. Hulle probeer rugby speel.

“Die vereistes met hul spankeuses maak dit bietjie moeiliker. Maar dit is Suid-Afrikaanse rugby en jy moet daarmee saamleef. Hy vaar goed daarmee,” het Hansen met verwysing na die transformasie-teikens in die Bok-span gesê.

“Dit lyk of Rassie ’n plan het en weet wat hy wil doen en hoe hy dit wil doen. Soms beplan jy vir lang termyn en nie kort termyn nie.”

Nigel Owens is die regte aanstelling as skeidsregter vir ’n groot wedstryd soos die een teen die Springbokke, sê die All Black-afrigter, Steve Hansen. Foto: Getty Images

As ’n internasionale afrigter wat hom vroeg in sy toetsloopbaan in dieselfde posisie bevind het as wat die geval nou met Erasmus is, het Hansen gesê die Bok-afrigter verdien ’n regverdige kans.

“Ek sal natuurlik as ’n internasionale afrigter sê gee Rassie ’n regverdige kans. Alle afrigters is onder druk om te wen. Daar sal altyd druk op ’n toetsafrigter wees. Rassie sou dit weet voordat hy aangestel is.

“Hy en sy groep het ’n duidelike plan wat uitgelê is. As ek na hulle luister, klink dit asof almal die plan verstaan. Mense moet geduldig wees en kyk hoe dit gaan.

“Rassie het ’n bewese rekord, soos die meeste afrigters voor hom. Ek is bly die Nieu-Seelandse Rugbyunie was destyds geduldig met my, Wayne (Smith) en Graham Henry in 2007 (ná ’n nederlaag in die kwarteindronde van die Wêreldbeker-toernooi) en ons weer ’n kans gegee het. Ek is seker as hulle (die Suid-Afrikaanse Rugbyunie) geduldig is, sal hulle daarvoor vergoed word.”

Mense moet geduldig wees en kyk hoe dit gaan.
Steve Hansen

Die skeidsregter in Saterdag se toets, Nigel Owens, is volgens Hansen ook die regte aanstelling.

“Hy is baie goed onder druk. Hy beweeg goed (op die veld). Ek dink steeds hy is een van die wêreld se voorste blasers. Hy verstaan die spel en het ’n goeie aanvoeling daarvoor. Hy het ook ’n sin vir humor. Hy weet wat verlang word om so ’n wedstryd te beheer.”

Die Bok-kamp self sal nie ontevrede met Owens se aanstelling wees nie. Hy is een van min blasers wat hom nie deur die tuisskare laat intimideer nie.

* Hansen het grootskaalse veranderinge aan sy span aangebring vir die toets teen die Bokke.

Daar is tien nuwe gesigte in sy beginspan en vyf skuiwe op die bank.

Ryan Crotty, Sam Cane en Rieko Ioane is almal ingesluit nadat hulle verlede week se toets teen Argentinië weens beserings misgeloop het. Sonny Bill Williams is weens siekte nie oorweeg nie, met Anton Lienert-Brown wat Crotty se sentermaat sal wees.

All Blacks: Jordie Barrett, Ben Smith, Anton Lienert-Brown, Ryan Crotty, Rieko Ioane, Beauden Barrett, Aaron Smith, Kieran Read (k), Sam Cane, Liam Squire, Scott Barrett, Sam Whitelock, Owen Franks, Codie Taylor, Karl Tu’inukuafe. PLAASVERVANGERS: Liam Coltman, Tim Perry, Ofa Tu’ungafasi, Patrick Tuipulotu, Ardie Savea, TJ Perenara, Jack Goodhue, Damian McKenzie.

Meer oor:  Bokke  |  Steve Hansen  |  Rugbykampioenskap  |  Springbokke  |  All Blacks
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.