Terwyl ’n Curriebeker-eindstryd op Nuweland nog ’n moontlikheid is, benader die Westelike Provinsie Saterdag se halfeindstryd teen die Haaie asof hulle nie weer die geleentheid gaan hê om op hul tuisveld te speel nie.

Dawie Snyman, die WP se agterlynafrigter, sê die WP beskou Saterdag se Curriebeker-halfeindstryd teen die Haaie as hul laaste wedstryd op Nuweland, ongeag wat in die kragmeting tussen die Bulle en Leeus kan gebeur. Foto: Gallo Images
“Ons het Maandag daaroor gesels. Dis ’n eer vir die spelers. Ons beskou dit as ons laaste wedstryd op Nuweland,” sê Dawie Snyman, die WP se agterlynafrigter.
“Die laaste wedstryd sal vir almal wat dit gaan kyk en daarin speel ’n spesiale herinnering wees. Dis die afsluiting van ’n merkwaardige hoofstuk. Die spelers verteenwoordig nie net die unie nie, maar ook diegene wat voor hulle op Nuweland gespeel het.”
Dis ’n eer en voorreg om die reg te hê om vir ’n laaste keer op daardie veld op te draf.
Dawie Snyman
Sou die Leeus die Bulle in Saterdag se eerste halfeindstryd klop en die WP daarna met die Haaie afreken, sal vanjaar se eindstryd op Nuweland wees.
In die WP-kamp word daar egter nie op die permutasies gefokus nie.
“Ons kyk nie verder as ons wedstryd nie en vestig nie ons hoop op ’n ander een nie. Sover dit ons raak, is hierdie ons laaste wedstryd (op Nuweland),” sê Snyman.
“Dit gaan nie vir ons die wedstryd wen nie, maar dit bied ’n bietjie ekstra motivering, want dis ’n eer en voorreg om die reg te hê om vir ’n laaste keer op daardie veld op te draf.”

Herschel Jantjies, die WP se Springbok-skrumskakel, sê die WP-spelers bemoei hulle nie met permutasies oor waar ’n Curriebeker-eindstryd gespeel kan word nie. Foto: Gallo Images
Volgens die Springbok-skrumskakel Herschel Jantjies word daar nie verder as die wedstryd teen die Haaie gekyk nie.
“Kom ons sê die Leeus wen en ons verloor teen die Haaie, dan is Nuweland in elk geval iets van die verlede. So ons fokus is uitsluitlik daarop om die Haaie te klop en ons is nie gepla oor wat elders gebeur nie,” sê hy.
• Die Stormers en WP speel van aanstaande jaar af hul rugby in die Kaapstad-stadion, wat dan as die DHL-stadion bekend sal staan nadat dié logistieke maatskappy, wat ook die Stormers en Streeptruie borg, die naamregte bekom het.
• Saterdag se halfeindstryd op Nuweland begin om 16:30.