Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
Laaste ‘proewe’ vir Cheetahs en Griekwas

Indien die Vrystaat-Cheetahs se agterlyn Vrydag op loop gaan, gaan dit selfs nog ’n langer wedstryd vir Griekwas wees as in die spanne se eerste oefenwedstryd verlede naweek in Kimberley.

Die heelagter Adriaan Carelse kry Vrydag kans om vir Hawies Fourie te wys wat in hom steek. Foto: Gallo Images

Dié twee spanne pak mekaar om 11:00 in Bloemfontein in ’n laaste losmaker voor die plaaslike rugbyseisoen volgende week begin. Geen toeskouers word weens die Covid-19-pandemie by die kragmeting toegelaat nie.

Hawies Fourie, afrigter, het besluit om vier nuwe spelers in sy agterlyn te gebruik en sal waarskynlik met belangstelling dophou hoe die vleuelpaar van Carel-Jan Coetzee en Craig Barry vaar.

Op heelagter word Adriaan Carelse losgelaat en die jong man van Sir Lowry’s Pass buite Somerset-Wes, kan so glibberig soos ’n paling wees as hy eers op dreef kom.

Fourie het vroeg vandeesweek laat deurskemer dat hierdie wedstryd vir spelers nog ’n gulde geleentheid sal wees om vir hulle ’n kleim af te steek vir volgende week se openingswedstryd in die SuperSport Unlocked-reeks teen die Pumas in die Toyota-stadion.

’n Bekende gesig op die plaasvervangersbank van die Cheetahs is die haker Jacques du Toit, wat by die Southern Kings geleen word. Sy Kings-stutmaat Cameron Dawson (ook geleen) hou ook die bank warm.

Die Junior Springbok-skrumskakel Rewan Kruger sal sy buiging vir die Vrystaat maak as hy opdraf. Hy is op die plaasvervangerbank gekies en kan ’n paar regmerkies agter sy naam kry met ’n goeie vertoning.

Die losskakel Reinhardt Fortuin, wat hom onlangs van die Maties af by die Cheetahs aangesluit het, dra ook die eerste keer ’n Cheetah-trui.

Wat die Griekwas-span betref, is die beginspan wat Scott Mathie, hul afrigter, gekies, dalk ’n aanduiding van hoe sy uitsoekspan vir volgende week se SuperSport Unlocked-stryd teen die Blou Bulle kan lyk.

Wat in Griekwas se guns (in Bloemfontein) behoort te tel, is dat die heelagter Anthony Volmink en die losskakel en kaptein, George Whitehead, nog goed vertroud behoort te wees met die Cheetahs se spelpatroon aangesien hulle in die Pro14-reeks vir die Bloemfonteinse franchise gespeel het.

Die Springbok-vleuel Bjorn Basson sal ook ’n faktor wees. Hy is uitstekend onder die hoë bal en kan die Vrystaters hoofbrekens besorg in dié afdeling van die spel wanneer hy as plaasvervanger opgestuur word.

Vrystaat-Cheetahs: Adriaan Carelse, Carel-Jan Coetzee, William Small-Smith, Benhard Janse van Rensburg, Craig Barry, Tian Schoeman, Ruan Pienaar (k), Jasper Wiese, Aidon Davis, Andisa Ntsila, Walt Steenkamp, Carl Wegner, Erich de Jager, Reinach Venter, Charles Marais. PLAASVERVANGERS: Louis van der Westhuizen, Cameron Dawson, Boan Venter, JP du Preez, Chris Massyn, Marnus van der Merwe, Tian Meyer, Rewan Kruger, George Cronje, Howard Mnisi, Reinhardt Fortuin, Ruben de Haas, Jacques du Toit.

Griekwas: Anthony Volmink, Daniel Kasende, Eduan Keyter, André Swarts, James Verity-Amm, George Whitehead (k), Zak Burger, Niell Jordaan, Stefan Willemse, Carl Els, Victor Sekekete, Ian Groenewald, John-Roy Jenkinson, Monde Hadebe, Mox Mxoli. PLAASVERVANGERS: CJ. Conradie, Bandisa Ndlovu, Madot Mabokela, Adré Smith, Mzwanele Zito, Ewan Coetzee, Johan Momsen, Gideon van der Merwe, CJ Velleman, Chriswill September, Ashlon Davids, Berton Klaasen, Johnathan Francke, Harlon Klaasen, Bjorn Basson.

Meer oor:  Superrugby Unlocked  |  Cheetahs  |  Oefenstryd  |  Griekwas
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.