Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
Laaste 'VB' hartseer – 'soos toe...
Die Vrystaat-losskakel Willem de Waal klits die bal van die kantlyn af oor vir Curriebeker-glorie teen die Leeus in 2007 in Bloemfontein. Die tuisspan het met 20-18 gewen. Foto: Gallo Images

“Dit is vir my hartseer, ek is mos maar een vir tradisie. Ek het dan nie eens daarvan gehou toe die leerbal uit rugby weggeneem is en met ’n sintetiese een vervang is nie.”

So het Franco Smith, voormalige Cheetah-breier en deesdae Italië se breier, op die nuus gereageer dat Volksblad Saterdag ’n laaste keer in papierformaat verskyn.

“Ek het in Bloemfontein grootgeword. Ek was vier jaar oud toe ons in Bloemfontein kom woon het, maar ek was ook al baie weg as gevolg van my werk,” laat weet Smith uit Italië.

“Elke keer as ek teruggekom het, was Volksblad daar, ’n verwysingspunt. Ek weet dit gaan steeds so wees, want die wêreld moderniseer en dis waarheen almal op pad is, maar tog bly die uitfasering van die papierkoerant vir my hartseer.”

Smith en Volksblad kom al ’n baie lang pad saam, vandat sy gesig die eerste keer as jong lat in die koerant verskyn het. Hy sê daar kom by hom baie herinneringe op as hy gaan stilsit en terugdink.

“Dit was lekker om die gloriedae as speler en afrigter saam met Volksblad te kon geniet, dit was vir my baie spesiaal. Baie van die koerant se voorblaaie en van die berigte het in albums en ook in baie mense se museums beland,” sê Smith.

Ek dink dis wat die mense gaan mis. Jy kan seker nog jou berig druk as jy wil, maar om die koerantberig self te sien was baie spesiaal.
Franco Smith

“Ek dink dis wat die mense gaan mis. Jy kan seker nog jou berig druk as jy wil, maar om die koerantberig self te sien was baie spesiaal.”

Hy sê die redakteurs oor die jare moet gelukgewens word.

“Dit was altyd ’n uitstekende koerant en die redes hoekom hulle daarvan wegbeweeg maak sin, maar dit sal gemis word. Daardie oranje-gedrukte Volksblad toe Vrystaat ’n keer die Curriebeker gewen het, staan vir my uit. Hulle het dit spesiaal gedoen.”

Hy sê dit gaan maar vreemd wees om nou met die kere wanneer hy van Italië af terugkeer nie meer ’n Volksblad te kan kry nie.

Rassie Erasmus

Die Springbok-afrigter Rassie Erasmus, voormalige speler en afrigter van die Vrystaters, sê Volksblad was van sy studentedae af in Bloemfontein altyd sy en sy vriende se eerste bron van inligting.

“In die dae voor sosiale media en digitale publikasies was die koerant die plek waar jy die nuus gekry het – nie net sport nie, maar ook ander belangrike nuusgebeure van die dag.”

Dit was nie alles maanskyn en rose in sy dae as speler en afrigter nie, maar hy het ’n goeie verhouding met die koerant gehad.

“Sover as wat ek kan onthou het die Volksblad en die unie (Vrystaat) nog altyd ’n goeie verhouding gehad. Die koerant het ’n groot rol gespeel om die publiek in te lig oor die belangrikste rugbysake en ook om die spel in die provinsie te bevorder,” sê Erasmus.

“Daar was altyd goeie wedersydse respek vir mekaar – aan die rugbykant het ons altyd geweet die koerant dra die spel en die span se beste belange op die hart, maar die koerant het ook ’n waghondfunksie gehad om objektief te wees oor die spanne se vertonings. En dit het ons as spelers en afrigters altyd gerespekteer.”

Erasmus sou in September die gasspreker op Volksblad en die Universiteit van die Vrystaat se jaarlikse Sportsterre-banket gewees het.

Meer oor:  Rassie Erasmus  |  Franco Smith  |  Bloemfontein  |  Volksblad  |  Koerant  |  Cheetahs  |  Afrigter  |  Rugby
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.