Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
‘Langpad’ skrik Cheetahs se Sias nie af

Toe Griekwas se Sias Koen die geleentheid gebied is om Pro14-rugby vir die Cheetahs te speel, het hy dit met albei hande aangegryp – al pendel hy weekliks tussen twee stede.

Dié 25-jarige ysterflank het Maandag as leenspeler saam met die Vrystaters begin oefen. Die Cheetahs begin hul veldtog aanstaande Vrydag teen die Glasgow Warriors in die Rosestad.

Kop omlaag en voorwaarts! Sias Koen sit af op een van sy kenmerkende stormlopies teen die Vrystaat-Cheetahs vroeër vanjaar in die Curriebeker-reeks in Bloemfontein. Hy gaan nou vir die einste Cheetahs Pro14-rugby speel. Foto: Gallo Images

“Hulle oefen teen ’n hoë intensiteit en ek kan sien hoekom hulle die Curriebeker-kampioene is. Dié span het ’n goeie visie en hulle laat my welkom voel,” sê Koen.

“Ek wag al ’n rukkie vir die kans wat ek nou gekry het en gaan die beste van die geleentheid maak.”

Hy en sy vrou, Wilné, woon in Kimberley, waar hy reeds sedert 2016 speel en hom as ’n steunpilaar by die Poubloues gevestig het.

Die plan is dat hy Maandae na Bloemfontein sal reis en dan weer Dinsdagaande na die Diamantstad sal terugkeer, aangesien die Cheetahs nie op Woensdae oefen nie.

Dan sal hy Donderdae weer die sowat 160 km terug na die Rosestad toe aandurf.

Koen erken die tyd weg van die huis is “bietjie sleg”, maar hy weet ook jy krap nie sulke geleenthede agter elke bos uit nie. Want vir dié stormram, wat sy span gereeld oor die voordeellyn kry, is dit ’n kans om sy talente op ’n groter verhoog uit te stal.

En ook om die eerste keer rugby buite die landsgrense van Suid-Afrika te speel. Daar is diegene wat sê dat Koen met sy groot lyf goed kan vaar wanneer die Europese velde swaar en nat raak in die Noordelike Halfrond se wintermaande.

“Dit gaan natuurlik meer fisieke wedstryde wees as die velde nat is. Ek het nog nie op sulke velde gespeel nie.”

Maar voor dít moet Koen, wat ná afloop van die Curriebeker-reeks deur meer as een publikasie in hul “Span van die Reeks” ingesluit is, eers die Cheetahs se span haal. Met spelers soos Oupa Mohoje, Gerhard Olivier, Junior Pokomela, Jasper Wiese en Chris Massyn ook in die ry, gaan dit nie maklik wees nie.

“Hier is ’n klomp goeie spelers, ek sal maar net moet hard werk en wys dat ek die span wil haal,” sê Koen.

Meer oor:  Pro14  |  Cheetahs  |  Griekwas
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.