Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
Wallabies pos Latu ná dronk-voorval
Die Waratahs se Wallaby-haker, Tolu Latu, het probleme nadat hy dronk agter die stuur van ’n voertuig betrap is. Foto: Getty Images

Die Waratahs se Wallaby-haker, Tolu Latu, is Sondag aan die Australiese Wêreldbekergroep onttrek nadat hy onder die invloed van alkohol agter die stuur van ’n motor betrap is.

Die Waratahs se afrigter, Daryl Gibson, was siedend kwaad toe hy eers kort voor die span se kragmeting met die Reds van dié voorval verwittig is.

Die haker was glo so aangeklam dat hy Donderdagoggend vroeg in Sydney agter die stuur van die voertuig aan die slaap geraak het. Hy is daar gevind en huis toe geneem, maar het niemand oor die voorval ingelig nie.

Die Waratahs se beleërde breier, Daryl Gibson. Foto: Getty Images

Gibson het eers Saterdagoggend van die petalje te hore gekom, enkele ure voor die Waratahs die Reds moes takel.

“Om te sê ek was die hel in, is om dit ligtelik te stel,” het die breier ná die wedstryd, wat sy span met 40-32 gewen het, gesê.

“Dis maar die bitter wat ’n mens as afrigter saam met die soet moet sluk. Ek is seker daar is ’n hele paar goedjies wat hy vir sy spanmaats moet sê.”

Dis die laaste soort publisiteit wat die ’Tahs nodig gehad het, gegewe dat hul ster-heelagter, Israel Folau, enkele dae vantevore sy Super- en Wallaby-kontrak kwyt is, weens onder meer homofobiese uitsprake op sosiale media.

Folau het tot Dinsdag om teen die beslissing te appelleer.

Hy het op Instagram geskryf die hel se vuur wag vir gays en ander sondaars wat hulself nie bekeer nie. Onder die sondaars wat hy noem tel, ironies genoeg, dronkaards. Die heelagter en Latu het ’n hegte vriendskapsband.

In die nadraai van die haker se skandes het Rugby Australië (RA) gesê die speler sal teruggestuur word na Brisbane en die nasionale span se oefenkamp in Sydney, met die oog op die Wêreldbeker-toernooi, misloop.

Jy moet regverdig wees en ons het gehou by die prosedures. Maar dis steeds onaangenaam om sulke navrae oor ’n speler te moet rig.
Andrew Hore

“Latu sal Maandag ’n vergadering met RA se integriteitskomitee, sowel as Nieu-Suid-Wallis se uitvoerende hoof, Andrew Hore, hê,” het die beheerliggaam Sondag in ’n kort verklaring gesê. “Die saak word tans ondersoek en daarom sal RA volstaan met dié verklaring.”

Die 26-jarige Latu het Saterdag as plaasvervanger teen die Reds opgekom. Volgens Hore is daar vooraf by Sanzaar, Superrugby se beheerliggaam, en RA, vasgestel of die speler wel mag speel.

“Sover ons kennis strek, is Latu onskuldig totdat ’n formele ondersoek anders bewys. Jy moet regverdig wees en ons het gehou by die prosedures. Maar dis steeds onaangenaam om sulke navrae oor ’n speler te moet rig,” het Hore gesê. - Reuters

Meer oor:  Tolu Latu  |  Daryl Gibson  |  Israel Folau  |  Brisbane  |  Australie  |  Dronkbestuur  |  Haker  |  Wallabies  |  Superrugby  |  Waratahs  |  Rugby
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.