Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
Leeus blinkoog oor Tshituka kwadraat
Die flank Vincent Tshituka is op 22-jarige ouderdom reeds ’n staatmaker in die Leeus se lostrio. Foto: Gallo Images

Soos enige Bulspan wat sy sout werd is, is dit voorlangs waar die manne van Pretoria op hul gevaarlikste is.

Geen wonder dus nie dat die Leeus hul mees ervare skrumwerkers Saterdag op Loftus Versfeld gaan opstuur om die Bulle te probeer sagmaak in ’n plaaslike Reënboogbeker-rugbystryd.

Die Leeus het ook besluit om ses voorspelers op hul plaasvervangersbank in te sluit.

Die Johannesburgers sal die Jukskei-derby begin met Jannie du Plessis en Sti Sithole in die voorry en in die tweede helfte op Carlü Sadie en Nathan McBeth staatmaak om nog lyfhoue te plant.

Die hele agttal sal dan uit relatiewe melkbaarde bestaan, aangesien Willem Alberts deur ’n besering uit die 23-tal gehou is, maar die Johannesburgers is nietemin baie opgewonde oor minstens een van die slotte waarmee hulle hoop om die wedstryd te voltooi.

Emmanuel Tshituka sal Saterdag teen die Bulle van die bank opkom om teen die Bulle te wys waartoe hy in staat is. Foto: Gallo Images

As alles in plek val, sal die Leeus se Tshituka-broers, die flank Vincent (22) en sy kleinboet, Emmanuel (20), die plaasvervanger-slot, vir die eerste keer saam op die veld wees in ’n senior wedstryd.

Ivan van Rooyen, die Leeus se afrigter, kon Donderdag nie sy opgewondenheid daaroor wegsteek nie.

“Die Tshitukas is geseën met ongelooflike atletiese vermoëns en hulle gaan net groter, vinniger en fikser word van hier af,” sê Van Rooyen.

“Emmanuel is ’n taai speler, hy is opwindend met die bal in die hand en baie fisiek. Ek dink die energie tussen hulle twee gaan vir ons baie waardevol wees en ons fisiekheid in die laaste minute hopelik ’n hupstoot gee.”

Agterlangs sal Fred Zeilinga die nr. 10-trui dra wat Elton Jantjies agtergelaat het, terwyl die senter Dan Kriel die kapteinskap by Jantjies oorneem.

“Ons het ’n interne grappie dat dit derde keer skeepsreg is vir Dan,” het Van Rooyen geglimlag.

“Verlede jaar toe hy die eerste keer sou kaptein wees, is die wedstryd gekanselleer (weens ’n rits Covid-19-gevalle by Ellispark voor ’n kragmeting met die Cheetahs) en verlede week het die wedstryd nie gebeur nie. Nou kry hy uiteindelik sy kans en ek dink dis die ideale tyd vir hom om te wys hoe hy die span vorentoe kan vat.

Hy is goed op die aanval en as ’n skopper en hy verstaan hoe ons wil speel. Hy is ’n fantastiese karakter en het maklik hier by ons ingeskakel.
Ivan van Rooyen

“Wat Fred op losskakel aanbetref, is ons ook opgewonde. Hy is goed op die aanval en as ’n skopper en hy verstaan hoe ons wil speel. Hy is ’n fantastiese karakter en het maklik hier by ons ingeskakel. Hy is ’n ou wat verkies om dinge eenvoudig te hou – wat jy sien, is wat jy kry. Dis vir ons ’n goeie ding.”

Die Leeus kon in 2018 laas met die Bulle afreken en weet dus presies hoe ’n hoë berg hulle op Loftus moet gaan klim.

Van Rooyen sê hulle het die laaste ses weke hard gewerk aan hul bestendigheid – die einste ding wat die Bulle volgens hom soveel beter as die res gemaak het in die laaste paar plaaslike kompetisies.

“As jy nie bestendig bly in die uitvoering van jou planne nie, word jy ontbloot, maar as jy deurgaans druk kan toepas – hetsy op die aanval of verdediging, in die vaste fasette of deur skoppe – sal jy beloon word,” sê hy.

“Ek dink dis waar die Bulle die beste van almal was in die laaste kompetisies.”

Die Leeus se span is:
Tiaan Swanepoel, Stean Pienaar, Wandisile Simelane, Dan Kriel (k), Courtnall Skosan; Fred Zeilinga, André Warner; Francke Horn, Vincent Tshituka, MJ Pelser, Wilhelm van der Sluys, Ruben Schoeman, Jannie du Plessis, PJ Botha, Sti Sithole. PLAASVERVANGERS: Morné Brandon, Nathan McBeth, Carlü Sadie, Reinhard Nothnagel, Emmanuel Tshituka, Sibusiso Sangweni, Morné van den Berg, EW Viljoen.
 
Meer oor:  Vincent Tshituka  |  Ivan Van Rooyen  |  Johannesburg  |  Reenboogbeker-Reeks  |  Rugby  |  Leeus  |  Bulle  |  Broers  |  Kaptein  |  Afrigter
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.