Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
Leeus soms briljant, soms pateties in sege
Leeus Brul én miaau op Ellispark!
Die Highlander Matt Faddes trek soos ’n vrot vel deur die lug, terwyl hy die Leeu-heelagter, Andries Coetzee, sonder sukses probeer stuit. Foto: Gallo Images

Hul middag was Saterdag weer ’n bietjie soos hul seisoen – ’n aanskoulike warrelwind van sowel die skouspelagtige as die patetiese. Maar hoewel die Leeus sake op Ellispark onnodig vir hulself bemoeilik het, kon hulle die Highlanders nietemin met 38-29 troef.

Dit maak dat die Johannesburgers sesde op die algehele puntelys is, maar met drie Suid-Afrikaanse derbywedstryde en die Hurricanes in die pylvak, sal hulle meer bestendig moet wees as hulle enduit in die uitspeelplekke wil bly.

Dis darem nie asof die Highlanders skielik kiepiekos is nie, bygesê.

Hulle is sowel voor- as agterlangs deugsaam eerder as skitterend, maar hulle het Aaron Smith op skrumskakel vir skitterendheid. Hy was wawyd wakker en het dit klokslag uitgebuit as die Leeus se aandag so ’n bietjie gedwaal het.

Matt Faddes se drie, wat die Highlanders ná ’n uur teen die verloop van die spel in laat voorloop het, het einste gekom nadat Smith ’n onbewaakte losbal agter die Leeu-losskrum gegaps het.

Dit het nietemin selde gelyk asof die Leeus sou verloor, hoewel hul konsentrasie in die eerste helfte knaend gehaper het. ’n Klomp losballe is op die grond verloor, ’n klomp duikslae is verbrou en daar is aangeslaan vir ’n vale.

Die ou debat oor of jy met strafskoppe punte moet vat of kantlyn toe korrel om ’n rolmaalbeweging van stapel te stuur, sou weer gisteraand woed. Die Leeus het aanvanklik knaend kantlyn toe gekorrel en niks daarmee reggekry nie – en in die proses minstens ses seker punte weggesmyt.

Elton Jantjies

Toe Malcolm Marx dus in die 62ste minuut pale toe beduie met sy span besig om die onderspit te delf, het die skare gejuig lank voor Elton Jantjies die vlae gelig het.

Dat die Leeus welverdiend bo was, ly darem ook min twyfel. Welwetende dat hulle beter is met die bal as daarsonder, het hulle die besit oorheers. Die besoekers was aansienlik meer geneig om hul longe op die Hoëveld te probeer spaar deur gebiedsvoordeel te soek.

’n Paar langafstand-teenaanvalle het die tuisspan ook plek-plek oorhoops gehad op die verdediging en hulle sou bitter bly gewees het toe die andersins puik Faddes aangeslaan het met die doellyn wawyd oop voor hom.

Die Leeus het nietemin blyke van hul potensiaal getoon. Andries Coetzee se drie ná puik aanvoerwerk van Jantjies en Kwagga Smith was pure Leeu-plesier en die tuisspan was ook ongelukkig dat die Highlanders-slot Tom Franklin nie vlak voor die rustyd ’n geelkaart gekry het vir aspris aanslaan nie.

Ná die draaislag was die foute aan Leeu-kant genadiglik minder en hulle het oënskynlik die botoon begin voer.

Die skrumstryd was taamlik gelykop, maar die Leeus het twee strafskoppe en ’n vryskop daaruit verdien en ook netjieser op die grond begin vertoon.

Om die oorwinning te verseker, was Courtnall Skosan se drie in die doodsnikke ’n tydige herinnering aan watter potensiaal dié span het as hy aan die gang kom.

Om die oorwinning te verseker, was Courtnall Skosan se drie in die doodsnikke ’n tydige herinnering aan watter potensiaal dié span het as hy aan die gang kom.

Hoewel daar niemand aan Leeu-kant is wat jy eintlik oor sy vertoning kan skel nie, was die kohesie nie na wens nie en dis miskien waar Warren Whiteley se gemis die ergste gevoel word. Die twee manne wat by hom oorgeneem het – Kwagga Smith as agtsteman en Marx as kaptein – was egter die twee uitstaande spelers op die veld.

Dit raak amper vervelig om Marx uit te sonder, maar dis ’n seldsame talent wat so knaend so kook.

Daar was ’n misverstand met ’n lynstaan of twee, maar die Springbok-haker het meer as vergoed daarvoor en herbevestig dat hy onder die wêreld se bestes tel.

Meer oor:  Highlanders  |  Leeus  |  Ellispark  |  Johannesburg  |  Superrugby  |  Rugby
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.