Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
Leeus brul tuis in CB-halfeindronde
Die Leeus se afrigter, Ivan van Rooyen.Foto: Gallo Images

Die kaarte het die afgelope Saterdag net mooi in plek geval vir die Leeus om ’n halfeindstryd in die Curriebeker-rugbyreeks by die huis te verseker.

Dit is Saterdag ’n herhaling van die laaste ligastryd teen die Griekwas, maar hierdie keer het die Leeus die tuisvoordeel.

Nadat hulle in Kimberley ’n bonuspunt-oorwinning van 27-26 verwerf het om tweede op die punteleer te eindig, is ’n mens tog huiwerig om te dink die Leeus sal noodwendig ’n voordeel in hul leeukuil op Ellispark hê in Saterdag se halfeindstryd.

Hul rekord weg van die huis af is hierdie seisoen veel beter as wat dit tuis is.

Hul rekord weg van die huis af is hierdie seisoen veel beter as wat dit tuis is.

Hulle het al drie hul wegstryde gewen, maar net een uit drie by die huis gewen, en dit was boonop ook net te danke aan ’n blatante fout van die TV-skeidsregter en enkele swak skeidsregter-beslissings.

In ’n stadium het dit die afgelope Saterdag selfs gelyk asof die Leeus bo-aan die punteleer sou eindig toe die Westelike Provinsie met 19-0 voorgeloop het teen die Vrystaat-Cheetahs, maar soos selfs die Leeus in Kimberley uitgevind het, het ’n voorsprong van 19-0 nie noodwendig beteken jy sou met gemak wen nie.

Die Vrystaters het uitstekend teruggeveg om die WP te troef en die Leeus van die boonste plek te ontneem.

Vir die Leeus was daar wel ’n opwaartse kurwe teen die Griekwas en hoewel die tuisspan 21 onbeantwoorde punte aangeteken het om die groot agterstand uit te wis, het die besoekers uit die Goudstad soos verskeie kere hierdie seisoen die oorwinning teen die einde bewerkstellig.

Die voorsprong het in die opwindende laaste kwartier telkens hande verwissel, maar die Poubloues se dissipline het hulle uiteindelik sleg in die steek gelaat en dit was ’n strafskop vyf minute voor die einde wat hul lot verseël het.

Die Springbok-slot Marvin Orie het groot indruk vir die Leeus gemaak.

Ivan van Rooyen, die Leeus-afrigter, was oudergewoonte konserwatief met sy woordeskat, maar het wel gesê dit was goed om van sy senior spelers terug te kry.

Veral Cyle Brink was uitstaande, met Marvin Orie wat ook ’n verskil gemaak het en Dylan Smith se skrumwerk wat die Leeus op die voorvoet gesit het toe hy as plaasvervanger verskyn het.

“Ons sal moet werk aan ons taktiese en tegniese foute, maar die ouens het groot karakter en veggees gewys in daardie laaste klompie minute. Ons is steeds in die wedloop en dit is ’n groot verligting,” het Van Rooyen gesê.

“In die halfeindstryd kry ons nog ’n kans om te groei as ’n span,” glo hy.

Griekwas het glad nie ’n goeie eerste helfte gehad nie en het pap en effe oorbluf voorgekom.

Die Leeus het in daardie tyd sake oorheers en benewens die groot klomp strafskoppe wat Griekwas afgestaan het, was die hanteerwerk ook nie goed nie en het verskeie kanse om te druk só verlore gegaan.

In die tweede helfte het hulle goed teruggekom en hulself in ’n wenposisie bevind, maar dit was helaas nie hul dag nie.

Punte:

Griekwas 26 (7): Drieë: Gideon van der Merwe (2), AJ le Roux, Wilmar Arnoldi. Doelskoppe: George Whitehead (3).

Leeus 27 (19): Drieë: Stean Pienaar (2), Tyrone Green, Madosh Tambwe. Doelskoppe: Shaun Reynolds (2). Strafdoel: Reynolds.

Meer oor:  Marvin Orie  |  Ivan Van Rooyen  |  Johannesburg  |  Ellispark  |  Halfeindronde  |  Curriebeker  |  Leeus  |  Griekwas  |  Rugby
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.