Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
Leeus dra hul sege aan James Small op

Die Leeus kon kwalik beter hulde gebring het aan James Small as met hul terugvegpoging om die Pumas Saterdag op Ellispark in hul Curriebeker-wedstryd met 38-37 te klop.

En hoe gepas was dit nie dat die speler wat soos Small die nr. 14-trui gedra het, die rigtingwyser na die sege was.

Madosh Tambwe Foto: Gallo Images

Madosh Tambwe se vierkuns het uitgestaan in hierdie vertoning wat van grootsheid en karakter gespreek het.

Die Leeus het allesbehalwe soos ’n Curriebeker-kampioen gelyk, maar die manier waarop hulle geweier het om bes te gee toe hulle met 37-21 agter was met net ’n kwartier se spel oor en 17 onbeantwoorde punte aangeteken het, moet hulle met vertroue na die res van die seisoen laat uitsien.

“Madosh is ’n spesiale speler,” het die afrigter, Ivan van Rooyen, gesê. “Hy weet hoe om af te rond en doen dit uitstekend.”

Tog blyk dit dat Tambwe ná die Curriebeker-seisoen vir die Leeus verlore gaan wees en hom by die Haaie gaan aansluit.

Van Rooyen het ook erken dat sy spelers hierdie sege aan die nagedagte van Small opgedra het.

Volgens hom was veral die plaasvervanger-skrumskakel, Dillon Smit, wat deur Small afgerig is toe hy vir die Pukke gespeel het, kwaai deur sy afsterwe geraak. Smit het die Leeus-kaptein, Ross Cronjé, in die laaste deel van die kragmeting vervang en puik vertoon.

Tog glo Van Rooyen dit was ’n breekslag deur die vleuel Stean Pienaar wat tot een van Tambwe se drieë gelei het wat die vonk vir die uitmuntende eindpoging verskaf het.

Die Leeus het verwoed aangeval toe alles verlore gelyk het en hulle is beloon in die laaste minuut toe die losskakel, Shaun Reynolds, onder die pale gedruk het en met die doelskop die sege ’n werklikheid gemaak het.

JOHANNESBURG, SOUTH AFRICA - JULY 13: Tyrone Green
Tyrone Green. Foto: Gallo Images

’n Leeu wat sterk aan Small herinner met sy spel, is die heelagter Tyrone Green.

Nie net kom hy ook uit een van die minder gerekende Engelse rugbyskole (Jeppe) nie, maar hy is ook soos Small iemand wat heelagter en vleuel met gemak kan speel. Green is ook ’n onverskrokke soort speler wat met oorgawe aanval en sy passie soos Small gedoen het, op die veld uitleef.

Die Leeus het hierdie week ’n loslootjie en Van Rooyen sê daar sal hard geskaaf word aan die verdedigingstrukture.

Jimmy Stonehouse, die Pumas-afrigter, meen die individuele verdediging het sy span in die steek gelaat en dat hul gebrek aan diepte by die stutte teen die einde ’n rol gespeel het.

“Waar ons goed geskrum het aan die begin en hulle probleme gegee het, het dinge verander toe ons die plaasvervangers moes opbring.”

Hy was ook nie gelukkig dat die Leeus-slot Rhyno Herbst skotvry afgekom het van twee hoogvatte nie en meen hy moes eintlik met ’n rooikaart gestraf gewees het.

Al het hulle die wedstryd weggegooi in die laaste ruk, keer die Pumas darem met twee bonuspunte terug Laeveld toe.

Punte:

Leeus 38 (14): Drieë: Madosh Tambwe (4), Tyrone Green, Shaun Reynolds. Doelskoppe: Shaun Reynolds (4).

Pumas 37 (17): Drieë: Carel du Preez, Le Roux Roets, Etienne Taljaard, Morgan Naudé. Doelskoppe: Kobus Marais (4). Strafdoele: Marais (3).

Curriebeker-bepalings

Curriebeker-puntelys

Curriebeker-uitslae

Meer oor:  Pumas  |  Leeus  |  Madosh Tambwe  |  Curriebeker
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.