Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
Leeus gaan vuur met vuur beveg

“Ons gaan vuur met vuur beveg.”

Dit was die boodskap wat die Leeus-afrigter, Ivan van Rooyen, uitgestuur het aan die Cheetahs voor Saterdag se Superrugby Unlocked-kragmeting op Ellispark in Johannesburg.

Gianni Lombard het nou die taak om leiding aan die Leeus se aanvalle te gee in Saterdag se stryd teen die Cheetahs. Foto: Gallo Images

Hy voorspel dit gaan ’n wedstryd wees wat teen ’n hoë tempo gespeel gaan word en wat baie aanskoulike rugby sal oplewer.

Ondanks ’n baie uitdagende week van die veld af met al die Covid-19-probleme wat die Leeus se kamp binnegedring het, sê Van Rooyen die glas is half vol, eerder as half leeg.

“Ons het vandeesweek twee baie goeie oefensessies gehad en ons beskou dit as ’n wonderlike geleentheid om teen die voorloper op die punteleer te wys watter vooruitgang ons gemaak het,” sê hy.

Behalwe om al die drama met die virus die hoof te moet bied (nege spelers kon as gevolg daarvan nie vir Saterdag oorweeg word nie), moet die Leeus vanmiddag nou nog die aanslag van die Wit Tornado ook afweer wat daar vanuit die Rosestad se rigting ingewaai kom en die Leeus op hul tuisbodem wil kom verswelg.

Ons het ’n agttal wat fisiek kan wees, maar ook die vermoë het om die bal wyd te speel.
Ivan van Rooyen

Van Rooyen besef die Cheetahs is ’n span wat teen ’n hoë tempo begin en veral in die eerste 20 minute van wedstryde dreig om spanne van hul voete te hardloop.

Hy glo sy span gaan bedag wees op daardie blitzkrieg.

Hy het ook onthul dat die Leeus ’n goeie grondslag wil bied en sodoende die Cheetahs aan bande lê.

“Ons het ’n agttal wat fisiek kan wees, maar ook die vermoë het om die bal wyd te speel.

“Die Cheetahs is ’n span wat jou kwaai kan straf as jy selfs net vir twee of drie minute laat slaplê. In die middelveld is hul groot en sterk senter Frans Steyn ook ’n bedreiging en ons sal hom moet hokslaan,” waarsku Van Rooyen.

Sonder die ervaring van Elton Jantjies, Jaco Kriel en Burger Odendaal gaan daar ’n groot verantwoordelikheid rus op die jong welpies.

Hierdie wedstryd gee die Leeu as’t ware ’n blik op hoe hul toekoms kan lyk.

Daar gaan veral aandag gevestig wees op die jong skakelpaar van Morné van den Berg en Gianni Lombard. Hulle sal rigting moet gee aan die aanvalle indien hul agttal hul deel doen.

Die Cheetahs sal ook die koelkop en ervaring van hul beseerde kaptein en skrumskakel, Ruan Pienaar, mis, maar indien hul stewige agttal op die voorvoet kom, kan dit ’n lang middag vir die Leeus op die verdediging raak, want met genoeg besit kan Rosko Specman, Malcolm Jaer en Clayton Blommetjies groot skade aanrig.

Nadat daar vandeesweek selfs gewonder is of hierdie wedstryd uiteindelik sou plaasvind met die Covid-drama, kan dit wel ’n skouspel wees tussen twee spanne vir wie aanvallende rugby beslis nie ’n vloekwoord is nie.

Leeus: EW Viljoen, Jamba Ulengo, Wandisile Simelane, Dan Kriel (k), Rabz Maxwane, Gianni Lombard, Morné van den Berg, Len Massyn, Vincent Tshituka, MJ Pelser, Marvin Orie, Ruben Schoeman, Carlu Sadie, Jaco Visagie, Sti Sithole. PLAASVERVANGERS: PJ Botha, Nathan McBeth, Jannie du Plessis, Wilhelm van der Sluys, Marnus Schoeman, Ross Cronjé, Stean Pienaar, Tiaan Swanepoel.

Cheetahs: Clayton Blommetjies, Malcolm Jaer, Benhard Janse van Rensburg, Frans Steyn, Rosko Specman, Tian Schoeman, Tian Meyer, Jasper Wiese, Junior Pokomela (k), Andisa Ntsila, Walt Steenkamp, Carl Wegner, Luan de Bruin, Reinach Venter, Charles Marais. PLAASVERVANGERS: Jacques du Toit, Boan Venter, Erich de Jager, JP du Preez, Aidon Davis, Chris Massyn, Ruben de Haas, William Small-Smith.

• Skeidsregter: Rasta Rasivhenge

Assistent-skeidsregters: Aimee Barrett-Theron, Griffon Colby

TV-skeidsregter: Willie Vos

TV: 16:30 op SS Grandstand (201), SS Rugby (211) en GDN.


Meer oor:  Ellispark  |  Johannesburg  |  Dan Kriel  |  Leeus  |  Cheetahs  |  Covid-19  |  Ivan Van Rooyen  |  Rugby
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.