Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
Leeus gee jonges kans teen Pumas

’n Kans om die welpies te leer brul.

Dít is hoe die Leeus SA Rugby se voorbereidingstoernooi oor die volgende paar weke sal benader: As ’n geleentheid om die unie se jongelinge teen meer ervare spelers los te laat en te sien wie van hulle die mas opkom.

Die slot Reinhard Nothnagel sal die Leeus Vrydag aanvoer in hul voorbereidingswedstryd teen die Pumas op Ellispark. Foto: Gallo Images

Dis teen die agtergrond hiervan wat ’n paar Leeus-melkbaarde Vrydag in die eerste wedstryd van die toernooi op die Pumas losgelaat sal word. Die 23-tal sal aangevoer word deur die slot Reinhard Nothnagel (23), terwyl Tiaan Swanepoel die losskakel-trui by Elton Jantjies oorneem. Van ’n potensieel opwindende lostrio bestaande uit die Junior Springbok Francke Horn, Roelof Smit en Marnus Schoeman word verwag om die Pumas ’n lang dag op kantoor te gee, en in die lynstane kry Emmanuel Tshituka die kans om sy staal te wys.

Tshituka is die kleinboet van die flank Vincent, en word baie hoog aangeslaan op Ellispark.

Spelers soos EW Viljoen, Manuel Rass, Divan Rossouw en Morné van den Berg, wat heelwat tyd op die plaasvervangerbank deurgebring het, bevind hulself ook in Vrydag se beginspan.

“Die ‘senior’ spelers het eers Maandag met oefensessies begin en ons wil graag vir hulle ’n voorseisoen skep, ná die baie rugby wat hulle die laaste paar maande gespeel het,” sê Ivan van Rooyen, die Leeus se hoofafrigter.

“Hulle sal eers teen die derde of vierde wedstryd oorweeg word, maar dit gee ons ’n uitstekende kans om almal wat nie so baie (in die Superrugby Unlocked- en Curriebekerreekse) gespeel het nie, nou tyd in wedstryde te gee. Die ouens wat hul hand opsteek kan druk sit op dié wat nie speel nie, so ons sien baie uit na die reeks.”

Mziwakhe Nkosi is die Leeus se afrigter in die voorbereidingstoernooi. Foto: Gallo Images

Die ontwikkelingsgeleenthede is nie net beperk tot die spelers nie. Van Rooyen sal die leisels vir die duur van die toernooi aan Mziwakhe Nkosi, die o.21-afrigter, gee.

Nkosi, ’n voormalige SA Skole-afrigter, sê hy sal nie aan die span se speelstyl torring nie.

“Daar is geen sprake van ’n nuwe besem wat kom skoonvee nie,” sê hy.

“As ’n franchise het ons ’n identiteit, so ons sal nie wegbeweeg van dit en die Leeus se manier van speel nie.”

Van die moontlikheid dat sommige spelers teen die Pumas in die diepkant gegooi word, wou Nkosi niks hoor nie.

“Die Pumas het gewys hulle is ’n gehalte-span en vir een of twee van ons spelers sal hulle ’n lakmoestoets wees. Maar ons het darem ook ’n Junior Bok of twee so ek dink die spanne sal goed opweeg teen mekaar. Niemand word vir die wolwe gegooi nie.”

Die Leeus se span is:
EW Viljoen, Prince Nkabinde, Manuel Rass, James Mollentze, Divan Rossouw, Tiaan Swanepoel, Morné van den Berg; Francke Horn, Roelof Smit, Marnus Schoeman, Reinhard Nothnagel (k), Emmanuel Tshituka, Wiehahn Herbst, PJ Botha, Nathan McBeth. PLAASVERVANGERS: Dameon Venter, Banele Mthenjane, Jannie du Plessis, Ruhan Straeuli, MJ Pelser, Dillon Smit, Luke Rossouw, Ngia Selengbe, Ruan Dreyer, Izan Esterhuizen, Sibusiso Sangweni.


MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.