Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
Leeus-hakers volg in pa’s se voetspore
Andries Coetzee, die Leeus se heelagter, sal sy lyf skrumskakel moet hou indien Nic Groom Saterdag teen die Haaie beseer word.Foto: Gallo Images

Van die Leeus se twee mees ervare Springbok-voorspelers is daar Saterdag in Durban teen die Haaie geen teken nie.

Die Springbok-haker Malcolm Marx sluit hom by Warren Whiteley op die kantlyn aan.

Marx kry verpligte ruskans ingevolge ’n ooreenkoms met die Suid-Afrikaanse Rugbyunie, terwyl Whiteley steeds las het van ’n kniebesering.

Met hierdie twee staatmakers nie daar nie, ontneem dit die Leeus ook van hul twee mees senior leiers.

Jan-Henning Campher, wie se pa, Lourens, vir die Blou Bulle gespeel het, sal Saterdag die eerste keer in die Leeus se beginspan wees.Foto: Gallo Images

Kwagga Smith neem in hul afwesigheid die kapteinskap oor, met die jong voormalige Blou Bul Jan-Henning Campher, wat haker speel in Marx se plek. Dit sal sy eerste verskyning in die beginspan wees.

Pieter Jansen is die haker op die plaasvervangersbank. Albei dié hakers se pa’s het ook provinsiale rugby gespeel, met Campher se pa, Lourens, wat stut vir die Bulle gespeel het, en Jansen s’n, Marius, wat senter vir die eertydse Oos-Transvaal (nou Valke) was.

Daar is drie veranderinge aan die Leeus se beginspan, wat die Highlanders verlede week getroef het.

Nic Groom neem by Ross Cronjé oor as skrumskakel, met Cronjé wat ’n klein operasie moet ondergaan aan sy skouer.

Die Leeus het geen spesialis-skrumskakel op die plaasvervangersbank nie en volgens die afrigter, Swys de Bruin, sal Andries Coetzee (heelagter) agter die oond uithelp sou dit nodig wees. Volgens De Bruin oefen Coetzee dikwels in daardie posisie en het hy ook op skool dikwels daar diens gedoen.

Wat Campher op haker betref, sê De Bruin hy sien baie uit na sy vertoning, “veral in die lig daarvan hoe hy geoefen het”.

Pieter Jansen, Saterdag die Leeus se plaasvervanger-haker, se pa, Marius, het vir die eertydse Oos-Transvaal gespeel.Foto: Gallo Images

Johannes Jonker is die nuwe vaskopstut in die plek van Carlu Sadie, wat hom op die plaasvervangersbank bevind.

De Bruin sê die Leeus besef wat op hulle wag in Durban, ondanks die feit dat die tuisspan se vertoningslys nie hierdie seisoen waffers is in die Haaitenk nie.

Hy was lank genoeg daar in Durban by die Haaie betrokke om te besef wat dit verg om hulle die loef daar te moet afsteek.

Wat die tendens betref dat spanne al hoe meer sukses weg van die huis af behaal, reken hy dit kan toegeskryf word aan die feit dat “spelers al hoe meer professioneel raak en besef dit is net ’n wedstryd tussen vier lyne, maak nie saak waar dit gespeel word nie”.

Die Leeus het intussen ook Donderdag aangekondig dat twee van hul plaaslike produkte, die loskopstut Dylan Smith en die flank Vincent Tshitsuka, hul kontrakte tot 2021 verleng het.

Die Leeus se span is:
Andries Coetzee, Courtnall Skosan, Lionel Mapoe, Harold Vorster, Aphiwe Dyantyi, Elton Jantjies, Nic Groom, Kwagga Smith (k), Cyle Brink, Marnus Schoeman, Marvin Orie, Stephan Lewies, Johannes Jonker, Jan-Henning Campher, Dylan Smith. PLAASVERVANGERS: Pieter Jansen, Sti Sithole, Carlu Sadie, Reinhard Nothnagel, Vincent Tshituka, Hacjivah Dayimani, Shaun Reynolds, Tyrone Green.

Meer oor:  Kwagga Smith  |  Johannesburg  |  Durban  |  Leeus  |  Superrugby  |  Derby  |  Rugby  |  Haaie
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.