Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
Leeus het Faf onder kontrak tot einde 2018

Faf de Klerk het ’n kontrak met die Leeus tot die einde van 2018 en daar sal van hom verwag word om dit te eerbiedig.

Die Leeus-skrumskakel Faf de Klerk is straks op pad oorsee. Foto: Gallo Images

Dit is hoe daar Sondag uit Leeus-geledere gereageer is op ’n berig in Rapport dat De Klerk ’n kontrak van drie jaar met die Engelse klub Sale Sharks gaan onderteken wat hom soveel as R21 miljoen in die sak kan bring. Die name van die heelagter, Andries Coetzee, en die slot Andries Ferreira is ook genoem as spelers wat met oorsese klubs onderhandel en hul verbintenis met die Leeus kan verbreek.

Coetzee is glo in die visier van die eertydse Springbok-afrigter Jake White by sy nuwe klub in Japan, Verblitz.

Rudolf Straeuli, die uitvoerende hoof van die Leeus, het Sondagmiddag gesê dit het tyd geword dat speler-agente tot verantwoording geroep word en optree volgens speler-regulasies wat die beweging van spelers van een unie na ’n unie reguleer.

“Spelers moet besef dat hulle bindende kontrakte het en dit moet eerbiedig. Ons het juis Saterdag ’n baie belangrike wedstryd teen die Stormers en dit is waar ons fokus moet wees,” sê Straeuli.

Meer wou hy nie oor hierdie aangeleentheid sê nie.

Dit was reeds ’n stormagtige week vir die Leeus met die nuus die afgelope Maandag dat hul hoofafrigter, Johan Ackermann, ná die Super-reeks gaan bedank om die Engelse klub, Gloucester, af te rig.

Hoe hierdie aankondiging die Leeus se vertonings op die veld gaan raak, moet nog gesien word.

Saterdag sal ’n goeie aanduiding wees wanneer hulle Kaapstad toe moet gaan om die omgekrapte en onoorwonne Stormers tot stilstand te probeer bring.

“Spelers moet besef dat hulle bindende kontrakte het en dit moet eerbiedig. Ons het juis Saterdag ’n baie belangrike wedstryd teen die Stormers en dit is waar ons fokus moet wees."
Rudolf Straeuli

Die gevoel is juis dat as die Leeus nie gefokus gaan opdaag in die Kaap nie, hulle ’n loesing op die lyf kan loop.

De Klerk, wat van die Springbok-radar af beweeg het deurdat die afrigter, Allister Coetzee, hom oor die hoof gesien het vir sy twee oefenkampe tot dusver vanjaar, kan een van die bes betaalde Suid-Afrikaanse spelers word indien dit wel sou gebeur dat hy hierdie lywige kontrak met die Sale Sharks onderteken.

Veral noudat hy nie meer blyk deel van die Bok-prentjie te wees nie, sal dit vir hom soveel makliker en aanlokliker wees om wel só ’n ver kontrak te wil gryp.

Daar kan egter nog ’n paar struikelblokke in sy pad wees voordat dit ’n realiteit word en die Leeus besluit om voet neer te sit en hom te dwing om eers sy kontrak met hulle te eerbiedig.

Die gevoel is juis dat die spelers nou al hul aandag moet vestig op wat op die speelveld gedoen moet word om suksesvol te wees en nie bloot fokus op waar hulle hul geldkoffers kan vul nie.

Meer oor:  Leeus  |  Rudolf Straeuli  |  Faf De Klerk
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.