Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
Leeus het hard in spieël gekyk ná misoes

Die Leeus het besluit om die spelers wat verlede Vrydag kleigetrap het teen die Pumas nog ’n kans te gee om te wys waartoe hulle in staat is en net twee veranderinge gemaak aan die beginspan wat die Westelike Provinsie Woensdag pak.

Die dyspierbesering wat Willem Alberts uit aanstaande maand se wedstryd teen die Britse en Ierse Leeus (en moontlik die hele Curriebeker-reeks) gaan hou, het die breintrust genoop om Ruben Schoeman in sy plek te kies. Die ander verandering is in die voorry, waar Ruan Dreyer die nr. 3-trui oorneem by Carlu Sadie, wat afskuif na die plaasvervangersbank.

Die 20-jarige Leeus-flank Sibusiso Sangweni tel onder die spelers wat Woensdag nog ’n kans kry om in die Curriebeker hul deugde te bewys. Foto: Gallo Images

Leeus-ondersteuners sal bly wees om die haker Jaco Visagie en skrumskakel Morné van den Berg terug in die 23-tal te sien. Albei sal van die bank opkom nadat beserings en siekte hulle uit verlede week se stryd gehou het.

’n Rits ander spelers se terugkeer word geoormerk vir die wedstryd teen die Britse en Ierse Leeus op 3 Julie. Hieronder tel die stutte Jannie du Plessis, Sti Sithole en Asenathi Ntlabakanye, die flanke Jaco Kriel, MJ Pelser en Roelof Smit en agterspelers soos Stean Pienaar, Burger Odendaal en Courtnall Skosan.

Du Plessis sal nie Woensdag se wedstryd meemaak nie, maar het uit sy jare van ervaring geput om sy spanmaats raad te gee oor hoe hulle laas week se blaps te bowe kan kom.

“Ons was almal baie teleurgesteld met Vrydag se vertoning, maar onthou, dit was vir ’n paar spelers hul eerste kans in die Curriebeker. Jy kan jouself vooraf sielkundig voorberei daarop, maar dis anders as jy op die veld is. As ek die analogie van chirurgie kan gebruik: Jy kan al die moontlike teorie van ’n spesifieke operasie leer, maar dis eers as jy daar staan met die skalpel in die hand wat jy weet hoe dit vóél om dit te doen,” het Du Plessis, ’n dokter, gesê.

“Eintlik is die oplossing vir wat verlede week skeefgeloop het baie basies: Elke ou moet selfondersoek doen en eerlik met homself wees oor wat verkeerd was. Almal van ons het standaarde en as jy onder daardie standaard presteer, moet jy bereid wees om te sweet om jouself te lig. Dalk was dit ’n goeie ding dat so ’n swak vertoning vroeg in die reeks gekom het, sodat die moeilike vrae nou reeds gevra kon word.”

Ivan van Rooyen, die Leeus se afrigter, het bevestig dat harde woorde die laaste paar dae in die kamp geval het.

“Die grootste ding wat ons moet regstel, is die vaste fasette en hoe fisiek ons is. Die Pumas het ons daar ore aangesit. Dis iets wat jy in jou voorbereiding kan regstel, maar jy moet ook hard in die spieël kyk om oplossings te kry,” het hy gesê.

Van Rooyen het gesê dis ’n goeie ding dat daar so min tyd tussen die misoes teen die Pumas en die stryd teen die WP is.

“Jy het minder tyd om te tob daaroor. As jy te veel fokus op die negatiewe, skep dit weer ’n ander negatiewe situasie. Hierdie scenario het ons gedwing om skerp in ons voorbereiding te wees.”

Volgens Van Rooyen is meer as ’n dosyn spelers geraak deur die uitbreking van Covid-19 voorverlede week in die Leeus-kamp. Daardie spelers ondergaan vandeesweek hart- en ander toetse, voordat almal wat by die Britse Leeus-stryd betrokke sal wees vroeg volgende week in ’n bioborrel gaan.

Die span vir daardie kragmeting is geoormerk om drasties anders as Woensdag s’n te lyk, maar die spelers wat die WP pak, sal gretig wees om Van Rooyen-hulle te oortuig hulle kan tog ’n aanwins teen die Britte wees.

Leeus: EW Viljoen, Jamba Ulengo, Manuel Rass, Dan Kriel, Rabz Maxwane, Fred Zeilinga, Dillon Smit, Francke Horn (k), Vincent Tshituka, Sibusiso Sangweni, Reinhard Nothnagel, Ruben Schoeman, Ruan Dreyer, PJ Botha, Nathan McBeth. PLAASVERVANGERS: Jaco Visagie, Banele Mthenjane, Carlu Sadie, Ruhan Straeuli, Emmanuel Tshituka, Morné van den Berg, Aidynn Cupido, Duncan Matthews.

Meer oor:  Westelike Provinsie  |  Leeus  |  Curriebeker
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.