Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
Leeus het nie genoeg spelers vir wedstryd
Die Leeus se Reënboogbeker-veldtog het ’n dag vroeër geëindig nadat hulle Vrydag besluit het om weens Covid-19-gevalle nie teen die Stormers te speel nie. Foto: Melinda Stuurman

Die Leeus het besluit om te onttrek aan hul Reënboogbeker-kragmeting Saterdag met die Stormers omdat “daar sekere posisies is waarin ons nie iemand op die veld kon stoot nie”.

Oor hoeveel Leeus-spelers die afgelope week positief vir Covid-19 getoets is en in watter posisies hulle speel, wou die unie se uitvoerende hoof, Rudolf Straeuli, nie Vrydag die sluier lig nie. Hy het egter die versekering gegee dat spelers wat positief getoets is, asook dié wat in nabye kontak met hulle was, onmiddellik in kwarantyn geplaas is.

“In die groep wat verlede naweek teen die Haaie gespeel het, is ’n positiewe uitslag aan die begin van die week gevind. Dié situasie is nie vreemd vir ons nie nadat ons verlede jaar ook deur Covid-19 getref is. Ons het dus die protokol gevolg en spelers wat geraak is, dadelik in kwarantyn geplaas,” het Straeuli verduidelik.

“ ’n Ander groep het daarna begin oefen vir die naweek se wedstryd, want ons wou ’n paar ander spelers kans gee, maar ook in daardie groep was daar positiewe gevalle. Nou bevind ons ons in ’n situasie waar ons nie die naweek kan speel nie, omdat daar sekere posisies is waarsonder jy nie ’n wedstryd kan ingaan nie.

Nou bevind ons ons in ’n situasie waar ons nie die naweek kan speel nie, omdat daar sekere posisies is waarsonder jy nie ’n wedstryd kan ingaan nie. In touch rugby kan jy dalk met sewe of agt vleuels speel, maar nie in vyftienmanrugby nie.
Rudolf Straeuli

“In touch rugby kan jy dalk met sewe of agt vleuels speel, maar nie in vyftienmanrugby nie.”

Straeuli het gesê almal by die unie is bedag daarop dat die land ’n derde vlaag van die pandemie beleef en wil dus nie onverskillig wees nie.

Die Leeus se kans om die houtlepel in die Reënboogbekerreeks te vermy, was baie skraal, met die span wat die Stormers met ’n bonuspunt en meer as 28 punte sou moes klop om derde op die puntelys te eindig. In die lig daarvan het dit vir hulle sin gemaak om eerder te begin fokus op die Curriebeker-reeks, wat aanstaande naweek begin, en ander spelers speelkans te gee.

Rudolf Straeuli

“Dis jammer die wedstryd kan nie voortgaan nie, want tyd op die veld is altyd waardevol en daar is ’n paar jonger spelers wat baie uitgesien het daarna om ’n kans te kry,” het Straeuli gesê. “Maar ons glo dit is die regte besluit, want ons wil nie nou onnodige kanse vat nie. Ons moet die spelers en ander rolspelers se veiligheid voorop stel.

“Ek glo wel ons sal volgende week reg wees om in die Curriebeker te speel,” het Straeuli gesê.

Die Leeus het twee Curriebeker-wedstryde (aanstaande Vrydag teen die Pumas in Mbombela en op die 23ste Junie teen die WP op Ellispark) voordat hulle in ’n bioborrel sal saamtrek om voor te berei vir hul wedstryd teen die Britse en Ierse Leeus op 3 Julie. Die Johannesburgers is die eerste SA span wat die toerspan sal aandurf.

Straeuli sê spelers sal getoets word vir die virus voordat hulle in die borrel toegelaat word. Die tydperk wat ’n speler voor die wedstryd in die borrel moet deurbring, hang af van of hy teen die virus ingeënt is.

• John Dobson, die Stormers se afrigter, het aan Stephen Nell gesê hy is “baie teleurgesteld” dat die wedstryd nie kan plaasvind nie.

“Ons het daarna uitgesien om ons veldtog met ’n oortuigende vertoning af te sluit. Maar ek begryp die redes en die protokol wat gevolg moet word.

“Vir ons is dit maar ’n geval van wat kon gewees het. Het ons verlede week in Pretoria (teen die Bulle) gewen, sou ons in ’n baie sterk posisie gewees het om in die eindstryd van die Reënboogbeker te kan speel. Maar dis buite ons beheer.”

Het ons verlede week in Pretoria (teen die Bulle) gewen, sou ons in ’n baie sterk posisie gewees het om in die eindstryd van die Reënboogbeker te kan speel. Maar dis buite ons beheer.
John Dobson

Die Stormers het daardie wedstryd met 27-31 verloor ná ’n omstrede drie deur Ruan Nortjé in die 79ste minuut.

Terwyl dit nou gedane sake is, kan ’n mens tog nie help om vir Dobson simpatie te hê nie.

Daar is ná die nederlaag van 30-33 teen die Haaie in die Kaapstad-stadion ook bevind dat dit ’n verkeerde beslissing was om Willie Engelbrecht met ’n rooikaart te straf. Die geluksgodin was die Stormers nie goedgesind nie.

Dit is die derde wedstryd waarin die Stormers of WP betrokke sou wees wat die afgelope jaar weens Covid-19-gevalle by teenstanders afgelas moes word. Wedstryde in verlede jaar se Superrugby Unlocked- en Curriebeker-reekse teen die Haaie moes ook afgelas word omdat daar Covid-19-gevalle by die Durbaniete was.

Meer oor:  Rudolf Straeuli  |  John Dobson  |  Johannesburg  |  Kaapstad  |  Afgelas  |  Covid-19  |  Rugby  |  Reenboogbeker-Reeks  |  Stormers  |  Leeus
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.