Die Leeus se breintrust weet ’n stadige begin soos wat hulle verlede naweek teen Griekwas gehad het, sal nie deug teen ’n span soos die Westelike Provinsie nie.
Daarom het hulle besluit om die koelkop van Ross Cronjé Saterdag in die nr. 9-trui in te span en die X-faktor van die woelwater Morné van den Berg op die bank te los vir die laaste 20 minute.

Die Leeus-skrumskakel Ross Cronjé teen die Stormers in aksie toe dié spanne in Oktober in die Superrugby Unlocked-reeks slaags was. Saterdag sal dié spanne weer ontmoet, maar dié keer sal die Kapenaars in die streeptruie van die Westelike Provinsie wees. Foto: Gallo Images
Die verandering op skrumskakel is een van net twee aan die span wat naelskraaps in Kimberley gewen het, met die ander ’n gedwonge verandering op heelagter.
Tiaan Swanepoel sal daar oorneem by EW Viljoen, wat weens ’n dyspierbesering tot ses weke op die kantlyn kan wees.
Die Leeus sal die WP pak met ses voorspelers en net twee agterspelers op die plaasvervangersbank, sodat veelsydigheid agterlangs ’n groot besprekingspunt was toe die span gekies is.
Van den Berg het ’n groot deel van sy loopbaan op heelagter deurgebring en dek die nr. 9- en -15-posisies. Swanepoel se vermoë om ook losskakel te speel, het swaar in sy guns getel toe besluit moes word tussen hom en die oud-Bul Divan Rossouw. Weens die “Bomb Squad”-aard van die bank, kon net een van hulle in die 23-tal opgeneem word.
As alles reg verloop, kan Krappies dan die laaste 20 minute kom amok maak.
Die senter Dan Kriel is die enigste ander agterspeler op die plaasvervangersbank.
“Krappies (Van den Berg) is natuurlik ’n veilige opsie op 9, maar hy het die grootste deel van sy loopbaan heelagter gespeel,” verduidelik Van Rooyen.
“As dit regtig nodig is, kan Wandi (Simelane) ook gaan heelagter speel. En Tiaan (Swanepoel) en Ross kan albei 10 dek,” sê hy.
“Ons het gevoel dis tyd om vir Ross ’n geleentheid te gee om te begin. Hy is baie ervare en bring leierskap en rustigheid. As alles reg verloop, kan Krappies dan die laaste 20 minute kom amok maak.”
Van Rooyen sê hulle verwag Saterdag ’n verwoede stryd tussen “twee desperate spanne”.
Die Leeus is in die vyfde plek op die punteleer, maar kan tot derde klim as hulle Saterdag wen en die Cheetahs teen die Bulle vasval. ’n Nederlaag sal hulle egter onder groot druk plaas, veral omdat hulle ná Saterdag net een tuiswedstryd oor het.
Die WP, wat derde op die punteleer is, blaas die laaste paar weke warm en koud en sal homself steeds kasty daaroor dat hy nie Saterdag teen 14 Bulle kon wen nie.
Albei spanne het boonop ervaring daarvan dat ’n wedstryd hierdie tyd van die jaar voortydig gestop kan word as ’n storm opsteek en dat ’n span nie kan laat slaplê in die eerste helfte nie.
“Die eerste 40 minute gaan baie belangrik wees, want (die WP) sal vanselfsprekend wil opstaan ná wat verlede naweek met hulle gebeur het en ons is desperaat om by die huis te wen,” sê Van Rooyen.
“Daar is natuurlik ook die faktor van die weer. As jy hierdie tyd van die jaar speel, moet jy bedag wees op die moontlikheid van storms op die Hoëveld en dat die wedstryd dalk vroeg gestop sal word. Daar word juis reën vir Saterdag voorspel.”
Die stut Carlu Sadie is nie vir die wedstryd oorweeg nie omdat hy Saterdag trou.
Leeus: Tiaan Swanepoel, Stean Pienaar, Wandisile Simelane, Burger Odendaal, Courtnall Skosan, Elton Jantjies (k), Ross Cronjé, Len Massyn, Vincent Tshituka, Jaco Kriel, Marvin Orie, Willem Alberts, Ruan Dreyer, Jaco Visagie, Sti Sithole. PLAASVERVANGERS: Jan-Henning Campher, Dylan Smith, Wiehahn Herbst, Reinhard Nothnagel, Wilhelm van der Sluys, Roelof Smit, Morné van den Berg, Dan Kriel.