Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
Leeus lek lippe af ná 3 weke op kantlyn

In die Leeus-kamp word die slapies tot die eerste wedstryd van vanjaar se Curriebeker-reeks dié week afgetel – en nie net omdat die rugbyspan vir die eerste keer in drie weke weer ’n wedstryd sal speel nie.

Die Leeus-flank Wandisile Simelane bars vorentoe met Vincent Tshituka by vir ondersteuning, in die Leeus se laaste wedstryd teen die Bulle. Twee van die vier verdedigers wat hy op pad doellyn toe geklop het, lê hulpeloos op die grond en toekyk. Foto: Gallo Images

Nee, daar is ook groot opgewondenheid oor die manier waarop hulle Vrydag die 480 km of so tussen Johannesburg en Kimberley sal aflê: Met die wiele van ’n paar bussies wat op die teer sing.

“Ons het nog nie hierdie jaar ’n busrit gehad nie, so dis iets om na uit te sien,” sê die Leeus-hulpafrigter Warren Whiteley Dinsdag. “Dit bring die ouens bymekaar om so ’n tog aan te pak en dan sal ons nog op pad wees na ’n wedstryd waaroor almal baie opgewonde is.”

Die Leeus kom Saterdag teen Griekwas te staan in hul eerste wedstryd in drie weke nadat eers die koronavirus en toe ’n loslootjie hulle van die veld gehou het. Hul laaste kragmeting was teen die Bulle – ’n wedstryd wat hulle met ’n bietjie meer geluk en bestendigheid kon gewen het, maar waarin daar genoeg goeie dinge gedoen is om die selfvertroue op Ellispark hoog te hou.

“Ons moet net meer bestendig wees,” sê Whiteley oor wat die span tot dusver die meeste gepootjie het.

“Daar is tye wanneer ons absoluut fantastiese rugby speel, en dan is daar weer ’n paar minute waarin ons gaan lê. Maar gelukkig kom ons darem in elke wedstryd nader aan ’n 80-minuut-vertoning.”

Daar is nie een span wie se oog nie op daai trofee is nie, dis vir seker.

Die Leeus is natuurlik geen guns bewys dat twee van hul ses wedstryde in die Superrugby Unlocked-reeks weens die koronaviruspandemie afgestel is nie. Nie net het dit hulle potensieel punte op die punteleer ontneem nie, maar ook tyd gekos waarin hulle skerper kon word.

Whiteley sê dis ’n reuse-uitdaging om die koronavirus van die deur te probeer hou.

“Ons is in baie moeilike omstandighede en ons kan maar net hoop en bid dat almal gesond bly. Maar dit gebeur ook so maklik dat iemand die virus optel,” sê Whiteley.

“Dis moeilik om vir die ouens te sê moenie jou lewe lei nie, maar dis wat nou nodig is. Niemand hou daarvan om te hoor ’n ou kon nie na ’n troue toe gaan waar hy die strooijonker sou wees nie, maar ’n mens kan eenvoudig nie die kans waag nie.

Warren Whiteley sê maskers en sosiale afstand is aan die orde van die dag op Ellispark. Foto: Gallo Images

“Die risiko is reeds groot genoeg. ’n Speler se kind kry dit dalk by die skool en steek die hele gesin aan, of sy vrou kry dit by die werk.

“Sulke dinge gaan ongelukkig gebeur, maar aan ons kant is die protokol waarmee ons dit probeer uithou, so goed as moontlik. Elke oggend word almal se koors geneem, jy moet uiteensit waar jy die naweek was en wie jy almal gesien het.

“Ons dra maskers, ons handhaaf ’n sosiale afstand. ’n Mens hoop dis genoeg, maar ons weet ook hierdie ding is buite ons beheer.”

Met net een sege in die Superrugby Unlocked-reeks begin die Leeus hul Curriebeker-veldtog op die agtervoet. Hulle het net 12 punte om oor te dra na dié reeks, teenoor die voorlopers, die Bulle, op 23.

Maar, beklemtoon Whiteley, dit beteken nie hulle droom nie van die Goue Koppie nie.

“Daar is nie een span wie se oog nie op daai trofee is nie, dis vir seker. Ons wil natuurlik baie graag die kompetisie wen, en ons glo ons is op die regte pad.

“Ons sien week ná week hoe die groep groei, hoe die spelers verbeter en hoe ons nader beweeg aan ’n 80-minuut-vertoning. Ons vat dit wedstryd vir wedstryd en hou by ons prosesse en ons glo dit gaan vir ons vrugte afwerp.”

Die eerste toets wag Saterdag teen ’n Griekwas-span wat self week ná week verbeter. Whiteley sê hulle skat die Poubloues glad nie gering nie, al was hulle met 61-31 baas in dié spanne se laaste wedstryd.

“Soos nou het ons toe ook ’n paar weke voor die wedstryd nie rugby gespeel nie en was almal lekker vars. Maar ons het hulle in ’n stadium teruggelaat in daardie wedstryd en ons wil nie hê dit moet dié naweek weer gebeur nie.

“Onthou ook hulle het voor daardie wedstryd ’n paar spelers verloor wat na die Cheetahs toe is, so daar was ’n bietjie ontwrigting by hulle.

“Maar sedertdien het hulle elke week beter gespeel, al het hulle nie die gewenste uitslae gekry nie. Hulle was baie ongelukkig om teen die Haaie te verloor en dis duidelik dat hulle ’n baie goeie span is wat vir mekaar en met trots speel.”

Meer oor:  Warren Whiteley  |  Leeus  |  Curriebeker  |  Rugby
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.