Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
Leeus: Meer vrae as antwoorde ná Curriebeker

Die Leeus kan met gemengde gevoelens na volgende jaar se Superrugby-reeks uitsien.

Len Massyn word vasgevat in ’n wedstryd teen die Vrystaat. Hy het belofte in vanjaar se Curriebeker-reeks getoon. Foto: Gallo Images

Wat vanjaar vir hierdie span van die Goudstad gebeur het, behoort tot die verlede, en veral die feit dat slim sy baas gevang het in die afgelope Saterdag se halfeindstryd teen die Westelike Provinsie in Kaapstad.

Dit was ’n wisselvallige Curriebeker-seisoen vir die Leeus en hulle sal veral terugkyk na die nederlae teen die Haaie op Ellispark, toe hulle met rustyd heeltemal in beheer was, en ook die Vrystaat-Cheetahs in Bloemfontein, toe hulle in die laaste oomblikke geklop is.

Het hulle daardie twee wedstryde gewen, soos hulle moes, sou hulle ’n tuisstryd in die halfeindronde gehad het.

De Bruin sê hy voel egter die seisoen was wel nuttig en hy voel bemoedig oor hoe van sy jong spelers die volgende trappie geneem het.

Spelers soos Aphiwe Dyantyi, Len Massyn, Marco Jansen van Vuren, Ashlon Davids en Hacjivah Dayimani het goeie dinge gedoen in die Curriebeker, maar daar is nog ’n vraag of hulle al gereed sal wees om aanstaande jaar Superrugby te speel.

Losskakel blyk ’n probleem vir die Leeus te wees.

Kry Elton Jantjies seer, is daar nie ’n ooglopende plaasvervanger vir hom nie.

Jaco van der Walt en Davids is wel daar, maar dit is ’n ope vraag of hulle werklik van Super-gehalte is.

Marco Jansen van Vuren laat loop die bal in ’n Curriebeker-stryd teen die WP. Is hy al opgewasse vir Superrugby? Foto: Gallo Images

Dan is daar skrumskakel, waar Ross Cronjé die voorkeur-kandidaat is.

Jansen van Vuren is ’n goeie speler, maar kan hy nou al sy man teen van die voorste Superspanne staan?

Die gerugte is steeds daar dat die Bulle se Springbok-nr. 9 Rudy Paige volgende jaar sy rugby in die rooi trui van die Leeus gaan speel.

As hy wel die Jukskeirivier oorsteek, sal gesien moet word of só ’n skuif die inspuiting gaan wees wat sy rugby nodig het.

Victor Matfield sal moontlik net as ’n konsultant deur die Leeus ingespan word tydens die Superrugby-reeks. Foto: Gallo Images

Verskeie van die Leeus se voorste spelers soos Warren Whiteley, Jaco Kriel en Ruan Combrinck is nog beseer en dit is ook nie seker of hulle al gereed sal wees wanneer die nuwe seisoen begin nie.

Immers sal hulle nie oorspeel wees wanneer hulle terugkom nie.

Dan is daar ook nog Howard Mnisi, wat feitlik die hele jaar nie gespeel het nie nadat hy in die eerste wedstryd van die seisoen in Bloemfontein beseer is.

Die Leeus kan ook ’n goeie plaasvervanger op heelagter vir Andries Coetzee benut – waarvoor daar na die junior geledere gekyk word.

Nog ’n vraag is of Victor Matfield gaan aanbly as ’n heeltydse voorspeler-afrigter. Indien nie, sal daar slim gesoek moet word na iemand wat daardie rol met onderskeiding kan vervul.

Dit hoef nie noodwendig ’n groot naam te wees nie, maar wel iemand wat die kuns sal verstaan om die Leeus se agttal na hul volle potensiaal te laat speel.

Meer oor:  Swys De Bruin  |  Leeus  |  Victor Matfield  |  Curriebeker
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.