Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
Leeus-nederlaag ‘nie Rasta se skuld’

Ondanks ’n teleurstellende, foutbesaaide poging Saterdag in die Curriebeker-halfeindronde op Loftus Versfeld, glo Ivan van Rooyen, hoofafrigter van die Leeus, sy span “is beslis beter en besig om te groei”.

Nóg ’n gele. Rasta Rasivhenge gee Willem Alberts, slot van die Leeus, die trekpas op Loftus, terwyl die span se kaptein, Elton Jantjies, moedeloos toekyk. Foto: Gallo Images

Selfs ’n paar stoere Leeus-manne sal dié waarneming met ’n kopskud as wensdenkery afmaak.

Die span wat Saterdag met 21-26 teen die Bulle vasgeval het, staan in groot kontras met die Leeus wat onder Johan Ackermann en later Swys de Bruin die keur in Suid-Afrikaanse rugby was.

Tog is Van Rooyen oortuig daar is vordering by Ellispark.

“Die laaste tien, elf maande was interessant gewees.

Moes ons meer geskop het of aanhou probeer hardloop het?
Ivan van Rooyen

“Ons het aan die begin van Superrugby (aan die begin van 2020) sekere leemtes gehad. Ons het in sommige afdelings werklik verbeter. Almal het ’n beter begrip van hoe ons wil speel en ons verdediging is aansienlik beter.

“Dit geld ook ons vaste fasette wat baie verbeter het.”

Hierin lê dalk die antwoord.

Leeus-spanne het in die onlangse verlede die Bulle poegaai gehardloop op Loftus. Nou is daar straks ’n groter fokus op verdediging.

Die besoekers het wel Saterdag in veral die eerste helfte ’n aanvallende ingesteldheid gehad, maar het gelyk na ’n span wat wil, maar nie weet hoe nie.

En waar was Plan B?

“Wanneer ons die bal behou het, het ons gevoel ons kry goeie momentum.

“Moes ons meer geskop het of aanhou probeer hardloop het? Dit was eerder die dissipline wat ons gekos het.”

’n Teleurgestelde Ivan van Rooyen, afrigter van die Leeus, staan Saterdag die media te woord. Foto: Gallo Images

Daar was voorspelbaar ondersteuners van die verloorspan wat wou weet waarom die skeidsregter, Rasta Rasivhenge, se gidshond nie saam is Loftus toe nie.

Die Leeus het kwaai onder sy fluitjie deurgeloop en die slotpaar, Marvin Orie en Willem Alberts, is in die tweede helfte in die bestek van twee minute met geelkaarte afgestuur.

“Ek kan hier sit en sê hy (Rasivhenge) was hard op ons, maar dit gaan nie ’n verskil maak nie.

“Om met 13 spelers te speel sou altyd moeilik gewees het.

“As jy 20 strafskoppe afstaan, gaan jy nie sommer ’n wedstryd wen nie.

“Jy gee die teenstander momentum. Ons dissipline was nie goed nie en dit is ons eie skuld, nie Rasta s’n nie. Ons moet dit nou regstel,” het Van Rooyen gesê.

Dit was ’n veldtog wat nietemin anders kon uitgedraai het was dit nie vir twee van die Leeus se tuiswedstryde wat vanweë Covid-19 gekanselleer is nie.

“Dit was twee tuiswedstryde en ons kon maklik vyf of tien meer ligapunte gehad het. Dis buite ons beheer. Ons was onder druk ná die Unlocked Superreeks en ons het later vyf in ’n ry gewen (in die Curriebeker-kompetisie) en ongelukkig nou die twee wedstryde (teen die Bulle) verloor.

“Ek is teleurgesteld, maar steeds trots op die karakter en terugvegpoging van die ouens vandag.”

Puntemakers: Bulle 26 (11). Drieë: Stravino Jacobs (2), Johan Grobbelaar. Strafdoele: Morné Steyn (3). Doelskop: Steyn.

Leeus 21 (0). Drieë: Willem Alberts, Wandisile Simelane, Burger Odendaal. Doelskoppe: Elton Jantjies (3).

Meer oor:  Leeus  |  Bulle  |  Pretoria  |  Curriebeker  |  Ivan Van Rooyen  |  Rugby
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.