Die flank Roelof Smit en heelagter EW Viljoen sal minstens die volgende twee van die Leeus se wedstryde in die voorbereidingsreeks misloop nadat albei weens beserings aan hul linkerknie op die krukkelys gedwing is.

Die Leeus-flank Roelof Smit se kans om hand op te steek in die voorbereidingsreeks is daarmee heen nadat hy Vrydag ’n kniebesering opgedoen het. Foto: Gallo Images
Smit het laat in Vrydagaand se kragmeting met die Pumas van die veld gehinkepink en daar was onmiddellik kommer dat hy hom weer in die beseringspook se slegte boekies bevind. Dié losvoorspeler was juis vir ’n groot deel van verlede jaar langs die kantlyn en het in sy debuutseisoen by Ellispark net ’n handvol wedstryde gespeel.
Die voorbereidingsreeks was vir hom ’n kans om te wys hy hoort in die span se voorkeur-lostrio en hy het die rol van baljagter Vrydag teen die Pumas met groot ywer vervul.
Smit sal luidens ’n Leeus-verklaring vir drie tot vier weke buite aksie wees. Hy sal dus beslis nie beskikbaar wees om die Oostelike Provinsie (op 10 Maart) of Haaie (20 Maart) te pak nie en daar sal duim vasgehou word dat hy reg is vir sy span se wegstryd teen die Stormers op 27 Maart.
Soos Smit het Viljoen ook nie verlede jaar die vryheid gehad om ongehinderd te speel nie.

EW Viljoen is ook terug op die krukkelys ná ’n besering aan sy linkerknie. Foto: Gallo Images
Nie net is hy tydens die Superrugby Unlocked-reeks met Covid-19 gediagnoseer nie, maar hy is ook lamgelê deur ’n dyspierbesering.
In sy afwesigheid het Tiaan Swanepoel gedy in die nr. 15-trui en homself as ’n eerstekeuse-speler in die Leeus-span gevestig. Swanepoel het egter verlede week teen die Pumas ’n eersteklas-vertoning op losskakel gelewer en sal waarskynlik vir die duur van die voorbereidingsreeks in daardie posisie bly, om die Leeus-breintrust die sekerheid te gee dat hulle ’n stewige opsie het wanneer die kaptein Elton Jantjies nie beskikbaar is nie.
Viljoen, wat ook vir drie weke buite aksie sal wees, se afwesigheid kan ’n geleentheid bied vir die oud-Bul Divan Rossouw om sy staal op heelagter te toon. Hy het verlede week op vleuel uitgedraf.
Die beserings aan Viljoen en Smit sal nie ’n onmiddellike impak op die Leeus hê nie, aangesien hulle in elk geval van plan is om ’n groep jongelinge teen die sukkelende Oostelike Provinsie los te laat. Die duo se ervaring sou egter welkom gewees het teen die Haaie en Stormers.