Die Leeus het hul gekontrakteerde spelers die afgelope week aan mediese toetse onderwerp en ofskoon dit ’n tydsame proses was vanweë logistieke probleme wat met die Covid-19-pandemie gepaardgaan, het dit ’n bietjie goeie nuus opgelewer.

Jaco Kriel, wat herstel van ’n enkeloperasie, kan nou beweeglikheidsoefeninge doen.Foto: Gallo Images
Jaco Kriel, die Springbok-flank en voorheen kaptein van dié span, het sedert sy terugkeer vanaf Gloucester (waar hy onder die voormalige Leeus-afrigter Johan Ackermann gespeel het) nog nie weer die trui van die Rooibontes oor sy kop getrek nie.
In sy laaste ruk in Engeland het hy ’n enkeloperasie ondergaan en dit het hom nou reeds etlike maande op die kantlyn gehou.
Dit het boonop gevolg op twee skoueroperasies, wat hy ook die afgelope twee jaar ondergaan het.
Volgens die mediese verslag wat die Leeus Maandag uitgereik het, kan Kriel darem nou weer oefen.
Dieselfde geld nog een van die Leeus se flanke, Vincent Tshituka, wat vroeg in die Super-seisoen, ná net ’n paar verskynings vir die Leeus, ’n enkeloperasie moes ondergaan. Hy het dit op hul toer na Australasië opgedoen en moes terugkeer huis toe nog voordat die Leeus se toer vanweë die koronavirus ook kortgeknip is.
Tshituka het intussen goed herstel en kan ook soos Kriel nou al beweeglikheidsoefeninge doen.
Nog ’n speler, wat soos Kriel nog nie vanjaar in aksie gesien is vir die Leeus nie, die slot Ryno Herbst, het gedurende die afseisoen ’n skoueroperasie ondergaan en is ook nog op die lang en tydsame proses terug na herstel.
Daar is ook wel sekere oefeninge waaraan hy blootgestel kan word.
Die Leeus sal veral hoop dat die 30-jarige Kriel, wanneer hy weer slaggereed is, die spelpeil ten toon kan stel wat hom in 2016 en 2017 ’n plek in die Springbok-span besorg het.
Die laaste van Kriel se 11 toetse was in September 2017 teen die Wallabies in Perth.